
Twee van die verdagtes wat aangekeer is. Die man aan die regterkant is in die buik gewond. Foto: SOS ProTec Sure
Drie vermeende rowers het Woensdagmiddag hul moses teëgekom toe hulle by die huis van ʼn egpaar van Johannesburg, wat albei polisiespeurders is, wou inbreek.
Bruce Lennox, woordvoerder van die Glenvista-gemeenskapspolisiëringforum (GPF), het Donderdag aan Maroela Media gesê die voorval het in Kiblerpark, naby die Southdowns-gholfbaan wes van Alberton, plaasgevind.
“Lede van ons GPF was toevallig in die omgewing en het bystand gebied nadat hulle van die voorval ingelig is,” het Lennox gesê.
Na wat verneem word het drie verdagtes, waarvan een glo gewapen was, toegang tot die egpaar se perseel gekry deur die hek met ʼn pik oop te buig. Albei beamptes was glo tuis.
Die vrou, ʼn kaptein, het die verdagtes sien inkom en skote afgevuur nadat die mans die huis se deur opgebreek en ʼn wapen op hulle gerig het. Een van die verdagtes is glo in die buik getref.
Maj. Mack Mngomezulu, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die gewonde verdagte en sy medepligtige is op die perseel in hegtenis geneem en die derde verdagte het in die bende se wegkommotor, ʼn groen Volkswagen, probeer vlug.
Lennox het gesê daar is glo op dié motor geskiet waarna die bestuurder stilgehou en te voet probeer vlug het.
Beamptes van die private veiligheidsmaatskappy SOS ProTec Sure is kort daarna van die gebeure ingelig en personeel van hul taktiese eenheid het dadelik die gebied begin fynkam vir die man wat gevlug het.
Jurgen Kotze, ʼn reaksiebestuurder van die maatskappy wat ook op die toneel was, het aan Maroela Media gesê die voertuig is verlate naby die egpaar se huis aangetref. “Die verdagte het in ʼn erf, sowat ʼn blok verder, skuiling gaan soek waar Gerrit Coetze, ʼn beampte van SOS se taktiese-eenheid, hom aangekeer en in hegtenis geneem het,” het Kotze gesê.
Die verdagte wat gewond is, is onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.
Mngomezulu het gesê die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen wat in die verdagtes se besit gevind is. Hulle is in aanhouding en moet binnekort in die Lenasia-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot huisroof.
Dié foto’s is geneem deur die Glenvista-gemeenskapspolisiëringforum en SOS ProTec Sure:
- Twee van die verdagtes wat aangekeer is. Die man aan die regterkant is in die buik gewond. Foto: SOS ProTec Sure
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Lekker vang slim toe sy baas!! Kry vir julle !!!
Ons wil meer gereeld sulke goeie nuus hoor!
Vat so fluffy – julle wou mos……………..
Vatso Katvis!
Pragtig manne en vrou!! Dit was die regte ding op die regte tyd. Lekker man…..lekkerrrr!!