[Foto’s] Rugbymal-seun spog met Springbok-vonkel in die oog

Gustav Mertz (Foto verskaf aan Maroela Media)

Gustav Mertz (Foto verskaf aan Maroela Media)

Gustav Mertz, ʼn agtjarige rugby-fanatikus van Pretoria, spog nou met ʼn baie spesiale Springbok-vonkel in sy oog om sy gunstelingspan te ondersteun.

Gustav is as baba gediagnoseer met ʼn baie seldsame oogkanker, retinoblastoma, wat daartoe gelei het dat hy sy een ogie op ʼn baie vroeë ouderdom verloor het. Hy het chemoterapie en radiasie ondergaan, en het die kanker oorwin, maar veg steeds vir die behoud van sy ander oog as gevolg van newe-effekte van die behandeling.

“Dokters het hom verwys na ʼn spesialis wat kunsmatige oë maak, en ons het by Jorgen Cieslik uitgekom,” het Elske Mertz, Gustav se ma, aan Maroela Media gesê. Cieslik is ʼn vooraanstaande kenner wat kunsoë vervaardig.

Die tegnologie rondom kunsoë het baie verbeter van die destydse glasoë. Dit is ʼn hoogs gespesialiseerde proses waar alles gemeet en gepas word en die akrielprostese word met die hand geverf om so naby as moontlik aan die natuurlike oog te lyk. Meeste mense kom nie eers agter wanneer iemand ʼn kunsoog het nie.

Cieslik moes deur die jare heen al verskeie oë vir Gustav vervaardig soos hy ouer geword het.

“Die Springbokke lê Gustav na aan die hart en toe die Wêreldbeker kom, het hy vir Jorgen gevra om iets uniek te ontwerp,” het Elske bygevoeg.

Cieslik het gevolglik die Springbok-embleem op die kunsoog vervaardig.

“Gustav hou nie daarvan om uit te staan nie, maar hierdie is iets cool – dit is ʼn cool andersheid!” het Elske verduidelik.

Gustav is ook na ʼn oefensessie van die Springbokke genooi toe hulle daarvan te hore gekom het. “Hy het die groot voorreg gehad om ʼn klomp van die spanlede te ontmoet. Victor Matfield het selfs vir hom sy oefentrui en kopskerm gegee!”

Gustav is in ʼn gewone skool by Midstream Ridge Primary. Hy gebruik ʼn spesiale lens om mee te lees en het 18% sig in sy oorblywende oog. Sy sussie is 10 jaar oud en hy het ook ʼn eenjarige bababoetie.

“Soms is hierdie kanker geneties, maar nie ek of sy pa het enigsins so iets in ons familie nie. Sy pa het dit die eerste keer opgemerk toe hy Gustav as baba gebad het en ʼn vreemde skynsel in sy oog opgemerk het.”

Maroela Media het vroeër berig oor die wit skynsel wat ook in foto’s opgemerk kan word. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

SNEL ·

Ek stem, baie brawe mannetjie en hy vat elke oomblik en maak die beste daarvan. Jou oog lyk pragtig, jy lyk super cool. Ek dink jy wil nou net in die strate boer en hom afshow.

Nita ·

Gaan groot Gustav! So trots op dit wat hy kan en nog gaan vermag. Hierdie is ook ‘n baie goeie artikel vir bewusmaking van oogkankers soos retinoblastoma.. Dankie Maroela!

Linda ·

Dis wonderlik. Super cool, ongelooflik,
Oom Jorgen………Oom en Tannie Hanli is die beste.
Oom het die kleintjie se hartjie so bly gemaak om die Prosthesis vir hom te maak.
Gustav jys n liggie wat skyn

B ·

Eks ook n pasient van Oom Jorgen was al by ander – Maar Oom is die beste. Laat almal op sy beste voel en lyk – en Tanie is wonderlik. Julle is n wonderlike span. En Gustav … you go!!!!!
Linda ek ken jou nie.. Maar jy klink aangenaam omdat jy hulle ook ken.

Charlotte Van Wyk ·

You go Gustav! Ons ken die Mertz gesin en julle is ‘n wen gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.