Foto’s: SA in wit getooi

Inwoners van Volksrust lê diep onder die komberse terwyl die sneeu buite woed (Foto: Colene-Mari Prinsloo via Facebook)

Sneeu het Vrydag dele van die Wes- en Oos-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal en selfs Mpumalanga in ʼn prentjiemooi landskap omgetower. Sneeu het op plekke 10 tot 20 cm diep gelê.

ʼn Kouefront wat Donderdag die oostelike dele van die land getref het, het teen Vrydag koue, sneeu en beduidende reënval in groot dele tot gevolg gehad.

Die kouer weersomstandighede sal na verwagting tot Saterdag in die noordelike dele van die land heers.

Sosialemediagebruikers het talle foto’s van berge met sneeu en sneeubedekte bome, velde en paaie op Facebook en Twitter gedeel.

Sneeu het Vrydag in dele van Lesotho, die Drakensberg-streek en Van Reenenspas in KwaZulu-Natal, die Harrismith-gebied in die Vrystaat en in dele van die Oos- en Wes-Kaap uitgesak.

Die N3-Tolkonsessie (N3TC) het vroeër gewaarsku oor gladde paaie en swak sigbaarheid op die N3-snelweg tussen Harrismith en Van Reenenspas. Nood- en padvoorvalbestuurdienste is op ʼn hoëgereedheidsgrondslag geplaas.

“Padgebruikers moet egter voortgaan om voorbereid te wees op koue weer. Maak voorsiening vir warm klere en komberse, en hou water, kos en basiese mediese voorrade in jou voertuig in geval van onverwagte vertragings of noodgevalle,” het Thania Dhoogra, N3TC se bedryfsbestuurder, gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.