
Die glybaan begin bo-op die rotse en strek 1,1 km oor die see. Die foto is geneem voor die konstruksie voltooi is. Foto: Susan Purén
Die wêreld se langste glykabel oor die see open binne enkele dae in Mosselbaai in die Suid-Kaap.
Die finale afronding word tans gedoen na langer as ʼn jaar se noukeurige beplanning en as die weer saamspeel, kan avontuurlustiges reeds die komende naweek hul volgende adrenalien-inspuiting op die glybaan kry.
“Dit gaan 1,1 km van skreeuende plesier wees,” sê Clinton Lerm, die eienaar van SA Forest Adventures wat die glykabel in samewerking met die Mosselbaai-munisipaliteit oprig en bedryf. Hy is oortuig dat die glykabel ʼn nuwe maatstaf vir dié soort ervaring gaan wees en dat dit toerisme in die Tuinroete, en veral in Mosselbaai, ʼn reusehupstoot sal gee.
Te oordeel na die sowat 500 000 trefslae wat die #MosselBayZipline-hutsmerk binne ʼn kort tydperk op sosialemediaplatforms gekry het, gaan die Suid-Afrikaanse toerismebedryf ook oor die algemeen by die projek baat.

Clinton Lerm (links), eienaar van SA Forest Adventures, en Jody Marais, een van die operateurs, by Mosselbaai se nuwe glybaan. Foto: Susan Purén
Lerm sê hy ontvang daagliks navrae van toergidse uit die buiteland wat groepe toeriste, juis oor die glybaan, na Mosselbaai wil bring.
Die baan strek van die hoë kranse wes van die Cape St. Blaize-ligtoring tot by die dek van die akwarium by Mosselbaai Punt. Mense wat die glybaan gebruik, sit in ʼn harnas wat oor die see aan ʼn kabel gly. Die rit duur tussen 70 en 80 sekondes en ’n snelheid van tot 80 km/h word behaal.
Die uitsig is op die kranse en grotte langs die kus, die brekende branders, die oseaan en dis nie onmoontlik om selfs ʼn blik op die seelewe te kry nie. Dis waarskynlik dieselfde prentjie wat die seevaarder Bartolomeu Dias gesien het toe hy in Februarie 1488 die eerste Europeër was om voet aan wal in Suid-Afrika te sit toe hy by Mosselbaai aan land gegaan het.
Buiten die plesierige gille van die mense op die glybaan, geskied die rit feitlik geruisloos en sonder die lawaai wat gewoonlik by glybane gehoor word. Metaal skuur nie teen metaal nie, aangesien die katrolle van teflon en die kabel van plastiese vesel vervaardig is. Al die toerusting is dus ook roesvry en perfek vir die vogtige seeklimaat maar kan steeds tot 26,2 ton se gewig dra.
Private voertuie word nie by die beginpunt op die kranse toegelaat nie omdat dit in ʼn natuurgebied is en deelnemers word in groepe aangery nadat die administrasie by die onderpunt afgehandel is.
Kinders onder ses jaar en swanger vroue word nie toegelaat nie en die gewigsbeperking is 120 kg. ʼn Rit kos ʼn stewige R450, maar Lerm sê daar sal van tyd tot tyd spesiale aanbiedinge vir Suid-Afrikaners wees.
“Geen koste was ontsien tydens die beplanning en konstruksie nie en die veiligheidsaspekte voldoen aan internasionale standaarde,” sê Lerm.
- Die manne is reeds vroegoggend besig met werk aan die Mosselbaai-glybaan. Foto: Verskaf
- Die kabel is van plastiese vesel vervaardig en kan meer as 26 ton se gewig dra. Foto: Susan Purén
- Mense wat die glybaan-rit onderneem sit in ‘n harnas wat aan die kabel hang en teen tot 80 km per uur na die onderste punt gly. Foto: Susan Purén
- Mense wat die glybaan-rit onderneem sit in ‘n harnas wat aan die kabel hang en teen tot 80 km per uur na die onderste punt gly. Foto: Susan Purén
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
40 Kommentare
Ja nee melk ons Suid Afrikaners
Ontspan. Deelname is nie verpligtend nie.
Ek sal beslis daar gaan gly.
Kan mense net oor NIKS positief wees nie? Regtig, NIKS nie?
Munisipaliteit????? Hier kom drama………
450 rand vir 70 sekondes klink soos n bargain ne
Nee dankie.
Glad nie vir my nie.