Foto’s: SA se honde-eenheid geloof vir werk in Turkye

Die SAPD se honde-eenheid in Turkye (Foto verskaf)

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens se honde-eenheid geloof vir hul soek- en reddingspogings in Turkye.

Byna 40 000 mense is reeds dood in die suidooste van Turkye en noordwestelike dele van Sirië toe ʼn aardbewing die gebied op 6 Februarie getref het. Verskeie dorpe is in hul geheel verwoes en miljoene mense is dakloos gelaat te midde van snerpende koue.

ʼn Span van vyf honde en hul hanteerders is op 9 Februarie saam met hul spanleier na Turkye ontplooi.

“Die span het die afgelope week verskeie operasies uitgevoer op soek na oorlewendes en om die liggame van slagoffers te vind,” sê Masemola.

Die polisie se soek- en reddingshonde is spesiaal opgelei en word gebruik om na vermiste persone te soek en menslike oorskot op te spoor. Hulle word veral gebruik in tye van oorstromings en waar geboue ineengestort het.

Maroela Media het vroeër berig die span het reeds ʼn 80-jarige vrou lewend in ʼn gebou, wat ineengestort het, gevind.

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens wil graag van die geleentheid gebruik maak om die volgende lede met trots te loof wat die organisasie en Suid-Afrika verteenwoordig het,” het Masemola bygevoeg.

  • Spanleier brig. Vimla Moodley wat tans hoof is van die polisie se nooddienste in die Oos-Kaap.
  • Tinalia Gouws, ʼn soek- en reddingshanteerder by die Lydenburg-honde-eenheid in Mpumalanga.
  • Martin Bann, ʼn soek- en reddingshanteerder by die Benoni-honde-eenheid in Gauteng.
  • Keagan Naido, ʼn soek- en reddingshanteerder by die Johannesburgse honde-eenheid in Gauteng.
  • Len Willemse, ʼn soek- en reddingshanteerder by die Pretoriase honde-eenheid in Gauteng.
  • Jennifer Seleka, ʼn soek- en reddingshanteerder by die Mahikeng-honde-eenheid in Noordwes.

“Die span is die toonbeeld van uitnemendheid in die organisasie. Die span werk hard en spoor slagoffers op waarna masjiengrawe en reddingswerkers die slagoffers uithaal.”

Masemola sê hy is baie bly om te hoor dat die SAPD se rol reeds baie goeie resultate opgelewer het. “Ons is dankbaar dat ons berusting kan bring vir die mense van Turkye. Namens die SAPD wil ek graag vir die span baie dankie sê vir hul toewyding en diens.”

Die span sal na verwagting op 18 Februarie terugkeer na Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

TruthDealer ·

Ek is SO trots op hierdie mense en honde!! Mag hulle veilig terugkeer. Absolute supersterre, mens en dier.

Christine ·

Dis wonderlik van die span dat hulle gaan help het. Miskien moes hulle vroeër gegaan het, kon hulle dalk meer lewens gered het, maar dit was sekerlik’n groot organisering vooraf en tyd was min. Baie dankie vir jul moedige werk.

Patch ·

Trots op hierdie span, mens en dier. Julle doen uitmuntende werk.

Harley Davidson ·

Die honde eenhede van die sa polisie is so ongeorganiseerd dat party honde hanteerders kry eers ‘n hond 35 maande nadat hulle opleiding voltooi is,die roodeplaat honde eenheid het nie lank terug nie honde verloor agv tekort aan honde kos .As daar gekyk word na al hierdie uitdagings is hierdie voorwaar ‘n uitstekende prestasie.

Danie ·

Baie dankie dat julle SA verteenwoordig het.Hier is baie werk wat op julle wag om die sapd se naam weer in ere te stel wil julle graag in die nuus sien .

Leonard ·

JULLE WORD DEUR ALMAL GELOOF VIR ALLES WAT JUL DOEN OM LEWENS TE RED. AMEN

Elma ·

Soms kan ons darem nog trots wees op ons land, sy mense en honde-kinders.

Marcello ·

Wow !!! Baie geluk aan die span, ons is baie trots op julle. Dit is wonderlik om so ‘n positiewe berig te sien van die SAPD. Gewoonlik is dit net negatiewe dinge wat gesê word van die SAPD. Soos in enige organisasie kry jy jou uitsonderlike mense, maar ook jou mense wat lyf wegsteek/korrupte.

trotsNAMSA ·

Trots se lid van die SAPD ! My pragtige viervoetige kollegas. K9 eenhede word altyd sleg gemaak deur koerante. Die lede / hanteerders – K9’s – ingesluit is van die bestes in die SAPD. Die Eenheidsbevelvoerders word sommer oor diesielfde kam geskeer as die “hoës in hul gesellige kantore”. Ons hondehanteeders is van die beste in die WÊRELD.
Dames hanteerders, hoe trots is ek op julle. Liefde en voorbidding vir almal daar doer.
Jul grootste bewonderaar, die K9 Gedragskonsultant.
VIVA K9 Eenhede VIVA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.