[Foto’s] SA tiener het dalk MH370-wrakstuk gevind

Liam Lotter met die wrakstuk, vermoedelik deel van die vermiste Vlug MH370 van Malaysia Airlines Foto: Candace Lotter via AP

Liam Lotter met die wrakstuk, vermoedelik deel van die vermiste Vlug MH370 van Malaysia Airlines Foto: Candace Lotter via AP

Liam Lotter, ʼn tiener van Wartburg in KwaZulu-Natal, het moontlik ʼn gedeelte van ʼn vlerk van die vermiste Malaysia Airlines Vlug MH370 opgespoor.

Sy gesin het gedink dis ʼn stuk gemors en het dit byna weggegooi.

Liam en sy ouers was met vakansie in Mosambiek toe hy op 30 Desember op die strand naby die Xai Xai-vakansieoord in die suide van Mosambiek gestap het, toe hy die stuk grys wrakstuk in die sand opgemerk het. Daar was klinknaelgaatjies in die wrakstuk met die nommer 676EB daarop. Hy was oortuig dis ʼn stuk van ʼn vliegtuig. Hy het die wrakstuk saam teruggesleep huis toe.

“Dit was vol water, so dit was baie swaar en ek het gesukkel om dit op te tel,” het hy aan die Associated Press in ʼn telefoniese onderhoud gesê. Die wrakstuk is ongeveer 1 meter lank, en ongeveer helfte so wyd, het sy pa, Casper Lotter, verduidelik.

Sy ouers het dit aanvanklik afgemaak as “ʼn stuk gemors”, en “moontlik ʼn wrakstuk van ʼn boot” en sy oom het hom gespot omdat hy die stuk rondgesleep het, maar die 18-jarige het daarop aangedring dat hy dit na Suid-Afrika wil bring om te ondersoek.

“Hy het daarop aangedring om dit te ondersoek, omdat dit ʼn nommer opgehad het,” het Casper gesê. Hy het bygevoeg sy seun is nie ʼn lugvaartentoesias nie, maar was bloot geïnteresseerd in die wrakstuk. “Vir een of ander vreemde rede het dit hom aangegryp,” het Casper in die onderhoud gesê.

Die wrakstuk is by die huis saam met die gesin se visvanggereedskap gebêre en bykans vergete gelaat, terwyl Liam op sy finale jaar in die hoërskool gefokus het. Sy ma het selfs probeer om dit weg te gooi.

Toe Liam egter later van nóg ʼn moontlike wrakstuk te hore kom wat ook in Mosambiek gevind is, ongeveer 300 km waarvandaan hy sy vonds gemaak het, het hy sy ondersoek hervat.

“Ek was baie geskok – dit was in Mosambiek, dieselfde kleur, dieselfde gebied,” het die tiener gesê oor die wrakstuk wat ʼn Amerikaner opgetel het. “Sy beskrywing was soortgelyk aan my wrakstuk.”

Sy ma, Candace Lotter, het verlde week met Australiese lugvaartowerhede in verbinding getree en hulle het gesê die nommer dui daarop dat dit moontlik aan ʼn Boeing 777 behoort. Australiese owerhede het met sy Suid-Afrikaanse eweknieë in verbinding getree sodat die stuk deur kenners ondersoek kon word.

Die byekorfagtige struktuur dui daarop dat dit moontlik deel kan wees van ʼn vlerk.

“Ons het gereël dat die wrakstuk opgelaai sal word en dan na Australië gestuur sal word, aangesien hulle deur Maleisië aangestel is om die dele te ondersoek,” het Kabelo Ledwaba, woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse burgerlike lugvaartowerheid, in ʼn SMS-boodskap aan AP gesê.

Maroela Media het vroeër berig Blaine Gibson, ʼn prokureur van Seattle, het verlede maand ʼn wrakstuk opgetel wat moontlik deel kan wees van die stertkant van die vermiste vliegtuig. Die stuk het die woorde “NO STEP” daarop.

Liam het gesê hy hoop sy vonds bring berusting vir die families van die slagoffers, en dat dit ander persone sal aanspoor om ook met owerhede in verbinding te tree indien hulle soortgelyke wrakstukke opgetel het. Hy het gesê hy sal dankbaar wees “as hulle net kan weet daar word bewysstukke gevind, om te bepaal wat gebeur het, waar dit gebeur het, sodat hulle berusting kan vind”.

Die Malaysia Airlines Boeing 777 het op 8 Maart 2014 met 239 persone aan boord verdwyn tussen Kuala Lumpur en Beijing.

Lees alle vorige berigte oor Vlug MH370 op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.