Foto’s: ‘Sakke aartappels’ toe eintlik perlemoen

‘n Polisiebeampte by die aartappelsakke vol perlemoen wat gevind is. Foto: Verskaf deur SAPD

Die Limpopo-polisie sê hy het vandeesweek ʼn reusedeurbaak gemaak in die stryd teen onwettige perlemoenhandel toe hy by ʼn grenspos beslag gelê het op miljoene rande se perlemoen.

Dié ontdekking is by die Groblersbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana gemaak.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, sê ʼn vragmotor het Woensdagaand laat by die grenspos aangekom en is by die soekpunt van die grenspos voorgekeer. Die vragmotor was glo van Suid-Afrika na Zimbabwe op pad, maar sou deur Botswana ry.

“Terwyl beamptes die vragmotor deursoek het, het die bestuurder en sy bemanning uit die vragmotor gespring en in die donker in gevlug,” sê Ngoepe. Die polisiebeamptes het voortgegaan om die voertuig te deursoek en het op ʼn versteekte kompartement onder die laaibak afgekom.

Foto: Verskaf deur SAPD

“Die kompartement was vol aartappelsakke gepak. In die sakke was 1 350 kg perlemoen met ʼn geraamde waarde van R6 miljoen.”

Volgens Ngoepe is die polisie steeds besig met hul ondersoek om te bepaal waar dié perlemoen vandaan kom en waarheen dit op pad was.

“Enigiemand met meer inligting word versoek om kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501, Stop Misdaad by 08600 10111 of die naaste polisiestasie te bel.”

Lt.genl. Nneke Jim Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die polisiebeamptes by die grenspos gelukgewens met die deurbraak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

John ·

Van vaderland na moederland… Seker het die reuk van die ‘verrotte’ aartappels wat duskant Hermanus so weelderig tussen die rotse groei, die aandag getrek. Die afgetredes wat so rustig op hul stoepe langs die Kaapse lekkertes sit, kan nou begin plant na die lekker reens… of werk dit nie soos in Limpopo nie?

Seeskulp ·

Iemand help asseblief, wat presies word met die perlemoen gedoen dat dit so n gesogte produk vir skelmhandel is.

Fred ·

Die staat le beslag daarop, en word verkoop op spesiale veilings en aan die hoogste bieder verkoop. Dan is die skelm perlemoen, eweskielik wettig en gaan na koper toe. En die staat verdien miljoene rande so. Lekker land die…

Annakapat ·

Perlemoen is n baie gesogte en dus duur dis!
Maar moet dit nie koud gehou word nie – hoe warm word dit onder so vragmotor op die lang pad?

Sarie ·

Annakapat, die goed word eers goed droggemaak, dan kan jy maar ry.

Neels ·

Ek het iewers gelees perlemoen is net soos renoster horing en leeu naels n gesogte produk as seks opkikker in die midde ooste. Al Afrika se beskermde diere, voëls en seelewe moet geplunder word vir die ooste se seks lewe , hoe siek kan een in sy kop wees.

Neutraal ·

As ons lyk soos Zimbabwe van waar sal ons mense na hier kan smokkel

Staak saam ·

Ek is al amper bejaard en het nog nooit die geleentheid gehad om perlamoen te proe nie, sou nie eers weet wat om met hom te maak as ek een in die hande kon kry nie.
Braai, kook of maal jy hom, miskien moet ons maar daar in die Ooste na n reseppie gaan soek.

Wow ·

Dit is so jammer dat die slimmes wat dit uitdink om dit in aartappelsakke te vervoer nie slimmer planne kan maak saam met Eskom om kragprobleme hok te slaan nie.

As al die skelms in SA kan saamdink sal ons dalk goed vaar op die aandelemark

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.