Foto’s: Sanral en Kaapstad gekap oor Lwandle-uitsettings

Foto: Murray Williams @mwdeadline, Cape Argus, Independent Newspapers

Foto: Murray Williams @mwdeadline, Cape Argus, Independent Newspapers

Meer foto’s volg onderaan die berig. 

Die departement van vervoer het Woensdag gesê dat uitsettings by Lwandle naby Strand in Kaapstad, gestaak moet word.

“Minister Dipuo Peters het onderneem om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) opdrag te gee om die Wes-Kaapse hooggeregshof se uitsettingsbevel terug te trek totdat ʼn kort- en langtermyn oplossing gevind is,” het Tiyani Ponto-Rikhotso, die minister se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê. Sanral is die eienaar van die stuk grond waarop die Lwandle-informele nedersetting geleë is. “Die families wat hierdeur geraak is, sal toegelaat word om terug te keer na die grond van waar hulle uitgesit is, hangende die uitkoms van gesprekke om ʼn langtermyn oplossing vir dié uitdaging te vind.”

Ponto-Rikhotso het gesê die departement van menslike nedersettings en die departement van vervoer sal in gesprek tree met die provinsiale regering en die stad Kaapstad om ʼn oplossing te vind vir die mense wat deur die uitsetting geraak word.

Intussen het Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, Woensdag teen die stad Kaapstad en Sanral uitgevaar en gesê hulle kon die uitsettings beter hanteer het. “Wat ons in die media sien, die inligting wat ons van die gemeenskap ontvang, verslae van Sanral en verklarings van die stadsraad los ons met verskeie onbeantwoorde vrae,” het Sisulu in ʼn verklaring gesê. “Dit is onaanvaarbaar dat ʼn hele gemeenskap nou uitgesit word, in die middel van ʼn baie koue winter en reën in die Wes-Kaap, en boonop terwyl kinders eksamen skryf.”

Sisulu het gesê ‘n ondersoek sal van stapel gestuur word om alle prosesse en prosedures na te gaan wat deur die betrokke partye gevolg is voordat die hooggeregshof die uitsettingsbevel goedgekeur het.

Sisulu sal na verwagting Woensdag die gebied besoek en kyk hoe die regering die gesinne wat beïnvloed is, kan help.

Maroela Media het vroeër berig dat betogers Dinsdag petrolbomme in die gebied gegooi het.

“Die betogers het petrolbomme gegooi en bande aan die brand gesteek,” het lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, Dinsdag gesê. Die situasie was gespanne, maar die polisie het wet en wet en orde behou. Die polisie het toesig gehou oor ʼn uitsettingsbevel deur die balju.

Die geweld het Maandag begin nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof vroeër vanjaar ʼn uitsettingsbevel aan Sanral toegeken het.

Siyabulela Mamkeli, burgemeesterskomiteelid van die stad Kaapstad, het Maandag in ʼn verklaring gesê die interdik het die balju en die Suid-Afrikaanse Polisiediens die mag gegee om die bevel uit te voer. Dit is teen enige persoon of struktuur op die betrokke grond wat die bevel verontagsaam. “Die balju is deur sy kontrakteurs bygestaan om enige strukture te verwyder ná ʼn onwettige besetting op die grond wat aan Sanral behoort,” het Mamkeli gesê.

Mamkeli sê die polisie ondersteun die balju se aksie. -SAPA

Die foto’s is met vriendelike vergunning van Murray Williams (@mwdeadline), Cape Argus, Independent Newspapers:

Lees ook:
Petrolbomme gegooi oor Sanral-uitsettingsbevel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.