Foto’s: Sewe winkels in Brakpan deur brand verwoes

Foto verskaf deur Ekurhuleni-rampbestuurdienste

Ekurhuleni-rampbestuurdienste het Vrydag ʼn blok woonstelle gered toe ʼn brand geblus is wat sewe winkels in Brakpan verwoes het.

Maroela Media het vroeër berig polisiebeamptes is na die toneel op die hoek van Stasie- en Kritzingerweg ontbied waar ’n blok winkels in ligte laaie gestaan het. Die Brakpan-brandweer is ook ontbied. Voorlopige ondersoek dui daarop dat ’n brand aanvanklik in een van die winkels ontstaan het waarna dit na die ander versprei het.

William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni-rampbestuurdienste, het intussen gesê die sewe winkels was aan mekaar verbind en die brand het reeds vinnig na ʼn nabygeleë blok residensiële woonstelle versprei. “Die inwoners is vinnig ontruim en geen beserings is aangemeld nie. Brandonderdrukking is dadelik ingestel om te voorkom dat die gebou ook begin brand.”

Volgens Ntladi het die boonste twee vloere van die woonstelblok begin brand. “Die vlamme is vinnig geblus en die gebou het geringe brand- en rookskade opgedoen.”

Die nabygeleë brandweerstasies van Springs, Benoni, Tsakani en Selection is ook ontbied om bystand te verleen.

Die brand in die winkels is omstreeks 12:00 geblus. Geen beserings is aangemeld nie.

Die presiese oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JohanR ·

Is Ekurhuleni nie waar Cyril Ramaphosa se nuwe stad is nie. Die een wat hy soe gat in die lig by SONA meer gespog het, terwyl hy ons vertel het van sy wonderlike pak klere? Hy sou die een gewees het wat ons vertel het hoe wonderlik sy viool is, terwyl die Stad Rome besig was om af te brand!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.