Foto’s: Skaak al hoe meer gewild onder meisies

Junior Geslote Skaaktoernooi by Hoërskool Waterkloof in Pretoria (April 2015) Foto: Reint Dykema (verskaf aan Maroela Media)

Junior Geslote Skaaktoernooi by Hoërskool Waterkloof in Pretoria (April 2015) Foto: Reint Dykema (verskaf aan Maroela Media)

Die jaarlikse Suid-Afrikaanse Junior Geslote Skaaktoernooi het die afgelope week by Hoërskool Waterkloof in Pretoria plaasgevind en vir die eerste keer het meer meisies as seuns aan die toernooi deelgeneem.

“Vanjaar se toernooi was nog die grootste in die geskiedenis,” het Judy-Marie Steenkamp, voorsitter van skoleskaak in Gauteng en die organiseerder van die toernooi, in ʼn verklaring gesê. Altesaam 267 spelers het aan vanjaar se toernooi deelgeneem. “Geskiedenis is gemaak toe vir die eerste keer in die Geslote se geskiedenis meer meisies as seuns gespeel het. Daar was 142 meisies teenoor die 125 seuns.”

Die toernooi vind jaarliks plaas om die top spelers in die onderskeie ouderdomsgroepe vir seuns en meisies te bepaal. “Spelers neem in afdelings van O/8 tot O/20 deel.”

Steenkamp verduidelik die spelers gaan later vanjaar deelneem aan die Wêreld Jeugkampioenskappe in Halkidiki, Griekeland asook die Afrika Jeug kampioenskappe in Livingstone, Zambië. Suid-Afrika stuur ook spelers na die Statebondspele in New Delhi, Indië. “Die land se voorste onder 16-spelers gaan ook deelneem aan die Olimpiade in Ulaanbaatar, Mongolia. Deelname aan ʼn onder 16-Olimpiade is die hoogtepunt van elke junior skaakspeler se loopbaan.

Die toernooi het uit 11 rondtes bestaan met twee rondtes per dag. ʼn Spel kan tot vyf ure duur. Vrydag was daar net een rondte en uitspeelwedstryde waar nodig. Die toernooi is Vrydagaand afgesluit deur die prysuitdeling en die bekendmaking van die wenners.

Die finale resultate asook die wenners vir alle ouderdomsgroepe is hier beskikbaar.

Die volgende foto’s is deur Reint Dykema geneem, die amptelike fotograaf van die toernooi. Dykema het in die verlede al twee Wêreld Jeugkampioenskappe afgeneem asook talle plaaslike nasionale kampioenskappe. Sy werk het al op die skaakwebwerf ChessBase en in die New York Times verskyn. Indien jy ʼn hoëresolusie-foto verlang van ʼn pryswenner of speler, stuur ʼn e-pos aan [email protected] met die versoek.

Nog foto’s van die pryswenners en die toernooi is op Tshwane Chess se Facebook-blad beskikbaar.

Hier is ‘n eNuus-video oor die skaaktoernooi:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Veels geluk aan die meisies. Skaak is breinoefening soos min. ‘n Spel wat na beraming sowat 1500jaar oud is maar ontwikkel het uit vorige vorme tot wat dit vandag is met nimmereindigende spelpatrone.

Gerrit Buter ·

Na my mening, was koshuis etes nie altyd geskik vir skaakspelers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.