Foto’s: Skade ná swaar storm oor Gauteng

ʼn Storm oor groot dele van Gauteng het Maandagmiddag (5 November 2018) skade aan huise en ander infrastruktuur aangerig. Foto: Twitter via @MichaelSun168

Inwoners van Gauteng het Maandagaand onder ʼn swaar storm gebuk gegaan wat gepaardgegaan het met stormsterk winde en reën wat skade aan infrastruktuur aangerig en talle bome ontwortel het.

Owerhede sal na verwagting vandag eers behoorlik die omvang van die skade kan bepaal, maar verskeie mense in dié provinsie het reeds sedert gisteraand skade in hul omgewing aangemeld.

Michael Sun, Johannesburg se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het op Twitter gesê skade is aangemeld by huise in Lenasia, Ennerdale, Eldorado Park, Northcliff en Orange Grove. In talle woongebiede is ook bome omgewaai wat paaie versper het, insluitend Booysens, Mondeor, Robertsham en Kibler Park. “Nooddienste, rampbestuur en die Johannesburgse metropolisie is ontplooi om hierdie noodgevalle te hanteer,” het Sun gesê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gister ʼn waarskuwing uitgereik dat swaar donderstorms wat met skadelike winde gepaard sal gaan van 17:00 tot 23:00 Maandag oor die provinsie sal voorkom. Sosialemediagebruikers het ook foto’s van hewige sandstorms gedeel.

Teen 20:45 gisteraand het die Stad Ekurhuleni bevestig dat ʼn hele aantal kragonderbrekings by die munisipaliteit aangemeld is, insluitend in Dinwiddie en Lambton in Germiston, Modder‑Oos in Springs en Villa Liza en Groeneweide in Boksburg. Stad Tshwane het ook kragonderbrekings bevestig in Saulsville, Erasmia en Laudium.

ʼn Storm oor groot dele van Gauteng het Maandagmiddag (5 November 2018) skade aan huise en ander infrastruktuur aangerig. Foto: Twitter via @MichaelSun168

Volgens die weerdiens sal dit vandag gedeeltelik bewolk in Gauteng wees met neerslae en donderstorms wat plek-plek sal voorkom. ʼn Minimum temperatuur van 15°C word vir Pretoria voorspel wat ʼn maksimum van 27°C sal bereik. In Johannesburg word ʼn minimumtemperatuur van 14°C verwag met ʼn maksimum van 26°C.

Die weerdiens het ʼn waarskuwing uitgereik vir erge donderstorms vandag oor gedeeltes van die Hoëveld in Mpumalanga, die westelike, suidelike en sentrale dele van Limpopo, asook die ver-noordelike dele van KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johnnie ·

Dit wys maar net weer hoe weerloos is ons as mens teen die kragte van die natuur. Sterkte aan almal wat skade gely het.

Limpopo ·

Ag kan enige iemand my asseblief help? Ek woon in Potgietersrus (mokopane) Limpopo en ek wil graag weet in watse deel val my kleine dorpie… Ek sien die weerdiens het n waarskuwing uitgereik dat die westelike, suidelike en sentrale dele van Limpopo erge donderstorms kan verwag vandag. Ek het dit probeer google maar kry dit nie?

Primaat ·

Potties is in Noord-Transvaal, deesdae Limpopo, maar dis eintlik ‘n rivier, so wees versigtig vandag! :-))

Limpopo ·

Maar is Potties in die noordelike, oostelike, suidelike, westelike of sentrale deel van Limpopo?

Sentraal limpopo ·

Potties is meer sentraal limpopo soos pietersburg maar ook effens suid limpopo soos warmbad.

koos1 ·

En met al hierdie skade het iemand se blompot omgeval en gebreek!

sommernet ·

Ek hoop nie julle is by MIWAY verseker nie, want hulle betaal nie vir stormskade uit nie.
al sê jou polis wat. LEES DIE KLEINSKRIF

Net ek ·

Jul het vergeet Tswhane is net CBD van Pretoria of het Pretoria se naam intussen verander? Groot skade in die Noord van Pretoria asook in Pretoria Wes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.