[Foto’s] Skenkings bring droogteverligting

'n Klein wateraandraer tydens die waterskenkings in Vanderbijlpark. Foto: Verskaf

‘n Klein wateraandraer tydens die waterskenkings in Vanderbijlpark. Foto: Verskaf

Verskeie organisasies het die afgelope paar weke hande gevat om met water- en voerskenkings verligting vir gemeenskappe te bring wat onder die voortslepende droogte gebuk gaan.

Die nie-regeringsorganisasie, Caring Daisies, het onlangs wyd reaksie op sosiale media ontlok toe hulle, in samewerking met verskeie ander instansies, soos FastFreight en Agri, tien Vibro-trokke met hooibale na boere in Schweizer-Reneke vervoer het. ʼn Skenker in Standerton het ongeveer 1 000 van dié voerbale aan die nie-regeringsorganisasie geskenk om aan boere uit te deel.

Andrea van Heerden, een van die koördineerders van die skenking, sê die droogte in die Vryburg-distrik het die boere op hul knieë. “Boere word gedwing om hul beeste te skiet. Die druk is ongelooflik erg en skenkings soos dié help om verligting te bring,” het sy gesê.

Die nie-regeringsorganisasie, Gift of the Givers, gaan ook help om die droogte in die Vrystaat te verlig. Dié organisasie gaan ʼn watertenkwa borg om water aan te ry en ook ʼn paar tenks borg waarin water gestoor kan word. Die Bethlehem-munisipaliteit sal dié water ook teen ʼn verlaagde prys verskaf.

Imtiaz Sooliman, woordvoerder van Gift of the Givers, sê effektiewer maniere moet bedink word om water by mense te kry, omdat dit ongeveer vyf ure neem om ʼn watertenk leeg te tap. Die organisasie stel voor mense skenk gebottelde water om verligting te bring.

Intussen het die maatskappye, Massmart en Vodacom, ook betrokke geraak by droogtehulp-projekte in Suid-Afrika.

Verskeie individue probeer ook om boere te help. Mariska Pretorius, ʼn klerk vir ʼn verskaffersmaatskappy, het onlangs ʼn inskrywing op Facebook gemaak wat ook wyd gedeel is. Pretorius probeer om 10 000L water in te samel om aan die Vrystaat te skenk. Die water word Dinsdag per trok na die Vrystaat vervoer.

“Ek het ʼn inskrywing gesien oor ʼn vrou wat van hul skape moes uitsit en dit het my geraak. Ná ek ʼn inskrywing op Facebook gemaak het, het ʼn vrou my dadelik gekontak om vervoer te reël,” het sy gesê. Dié trok vertrek Dinsdagmiddag na die Vrystaat.

Intussen het die organisasie Water Shortage South Africa  ook ‘n waterskenkings-  en verspreidingsprojek begin as gevolg van die voortslepende droogte. Talle dorpe en plase in die Vrystaat het glad nie meer  enige drink- of waswater nie as gevolg van damme en boorgate wat reeds maande lank leeg is.

Die burgerregte organisasie AfriForum se tak in Vanderbijlpark is direk by dié projek betrokke. Die eerste aksie was ‘n waterskenkingsbewusmakingsdag op 9 Januarie, in samewerking met Bondvest, een van die waterafsetpunte in Vanderbijlpark. Met die hulp van takbestuurslede,  taklede en vriende uit die gemeenskap is ten minste 15000 liter water ingesamel.

Andries Visagie, AfriForum se taksekretaris, het gesê mens besef nie die impak van die droogte nie. “Mense in dorpe waar daar nog nie ‘n waterkrisis is nie, besef nie die impak van so iets nie. Ons is in ‘n gemaksone waar ons die kraan oopdraai en dan is daar skoon drinkwater. Talle dorpe het geen watertoevoer nie, terwyl ander dalk vir een uur per dag toegang tot kraanwater het. Gemeenskappe moet klaarkom met minder as 20 liter water per persoon per dag.

Maroela Media het ook onlangs berig oor die kettingwinkelgroep, Shoprite, se waterskenking aan boere.

Enigeen wat betrokke wil raak by die droogtehulp en waterskenkingspogings, kan water aflaai by Massmart-winkels landwyd, Gift of the Givers-takke en Caring Daisies-takke. Kontak ook vir Mariska by 081 712 1822 of [email protected] vir waterskenkings. Nog ʼn trok kan gereël word indien genoeg water ingesamel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christo Visagie ·

Na ek die berig gelees het, het ek besef daar is nog baie mense wat omgee vir mekaar. Die regering wat iets moet doen hou hulle besig met dinge soos rassisme plaas van om aandag te gee aan wat belangrik is. Laat sak jou kop ín skaamte jacob zuma,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

alida ·

Wonderlike nuus baie dankie!!! Waar is die banke, versekeringsmaatskappye en groot maatskappye? Hoekom kan hulle nieook trokke borg vir die Vrystaat nie. Hulle mors miljoene op sogenaamde spanbou naweke. Dit is bog!!! Komaan Sanlam, Liberty, Ou Mutual, al die groot banke. Ons daag julle uit .ASB HELP DIE VRYSTAATSE BOERE OM HULLE DIERE TE RED.

EMK ·

Almal help behalwe die een wat REGTIG moet moeite doen en hulp gee – die regering!

Annemarie Grobler ·

Gaan kyk gerus na die Facebook blad genaamd Boere in Nood. Dit is fantasties om te sien hoe vinnig die publiek saamgespan het om water en voer bymekaar te maak.

Connie ·

Wonderlik en dankbaar vir die skenkings… dankie almal ons sien dit raak en bid uit dankbaarheid…. maar waar is die regering se bydrae??????

Suzette ·

Ver…….baie ver dit kom nog nie eers aan nie Connie. Geen stofwolk eers op die horison nie. Die regering is met ander onbenullighede soos daai rassekaart en naamsverandering en sulke peuter goete besig. Gelukkig het ons ‘n Here. Dankie tog.

Fanie ·

Vreeslik Baie Dankie vir almal se hulp en bydrae.
Dit is ‘n uitermatige swak regering wat net wegkyk met Rassistiese skille op hulle oë!!
Kan ons nie die vleis en kos van hulle weerhou en net vir die sorg wat nou die Boere help??
Tog so jammer dit is nie uitvoerbaar nie, Of is dit?
Wonder maar net hoe sit die massa en toekyk en wag, maar nog steeds wil hulle eet!!
Het hulle geen trots of skaamte om nie by te dra?!!

@ICE ·

Ek het twee weke terug by die faceboek groep aangesluit “Water Shortage South Africa” en wat ‘n belewenis, Hierdie groep (Publieke Groep) het binne twee weke gegroei met 18 700 lede tot en met vandag. Die foto’s is ‘n moet sien asook hoe al die inwoners van verskillende dorpies saam staan om water in te samel en te vervoer waar daar ‘n groot nood is. Mens kan dit nie in woorde beskryf nie, gaan loer gerus self op die blad. Hierdie is mensies wat omgee.

Andries Visagie ·

“Water Shortage SA” doen wonderlike werk. AfriForum Vanderbijlpark wil graag ander AfriForumtakke- en lede uitdaag om betrokke te raak by die waterprojek. Selfs na welkome reën in die Vrystaat gaan dit nie ‘n noemenswaardige verskil aan leë damme en superdroë riviere maak nie. Moet asseblief nie ophou om water te skenk aan gemeenskappe wat swaarkry nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.