Foto’s: Slagoffers van seeramp weer herdenk

Die hoof van die Gansbaai Toerismeburo, Glenda Kitley, het namens die gemeenskap ‘n krans aan die voet van die gedenkmonument geplaas. (Foto: Elize Parker)

Deur Elize Parker

Dit was Sondag die 171ste herdenkingsviering van die tragiese nag wat die Britse oorlogsvoorradeskip, HMS Birkenhead, net meer as ʼn kilometer ver van die Gansbaai-kuslyn in die Overberg in twee gebreek het.

Meer as 100 passasiers het Sondag op drie bote na ʼn aandoenlike seremonie geluister, op die plek in die see waar die skip se passasiers op 26 Februarie 1852 uit hul kajuite na die oorstroomde skipdek gehaas is. Dit was net ná 02:00.

Proteakranse en oranje rookfakkels is op die branders geplaas, waar die sogenaamde Birkenhead-golf tydens die tragedie gebreek het.

Asof bewus van die geleentheid, het twee dolfyne ook die kruine van branders Sondag gery terwyl trompetklanke van die bekende geestelike lied, Amazing Grace, oor die seedeining van meer as twee meter weerklink het.

Die skip het in Januarie 1852 uit Brittanje vertrek met manskappe, asook hul kinders en gades om by die Britse garnisoene in die Oos-Kaap aan te sluit, wat in die Agtste Grensoorlog geveg het.

Van die sowat 638 passasiers aan boord het moontlik 193 oorleef. Die tragedie het ook aanleiding gegee tot die sogenaamde “Birkenhead-drill”-skeepsbeginsel. Dié noodlottige aand, vir die eerste keer in Britse skeepsgeskiedenis, het die nou geldende seewet van “Vroue-en-kinders-eerste” tot stand gekom. Terwyl drie reddingsbote vol vroue en kinders gelaai is, het die manskappe op die dek van die skip op bevel in gelid geval. Die soldate en matrose het na oorvertelling so bly staan totdat die skip in twee gebreek en hulle oorboord geval het.

Die kadette van die TS Birkenhead SA Sea Cadets onder leiding van luitenant Noel Dreyer (vooraan) het die gedenkparade gelei . Seeman Aluno Veldman het die Reivelle tydens die parade op die beuel gespeel. (Foto: Elize Parker)

Die seremonie ter see is opgevolg met ʼn herdenkingsfunksie by die Danger Point-vuurtoring buite Gansbaai. Hier het eerwaarde dr. James Gray van die United Church in Hermanus gesê dat vraagtekens geplaas kan word oor kapt. Robert Salmond se besluit om so na-aan die land te seil. Die skynbare oordeelsfout het daartoe gelei dat die boeg teen ʼn vlakliggende rots skaars 1 500 meter van die kuslyn gebots het.

Volgens Gray dui onlangse onthullings deur duikers aan die wrak op moontlike manipulasie van skeepsinstrumente in Simonstad voor die troepeskip se vertrek na Algoabaai. Kompasse is ook klaarblyklik nie gekalibreer nie.

Die burgemeester van die Overstrand, dr. Annelie Rabe, het tydens die kranslegging gesê ʼn les kan uit hierdie tragiese geskiedenis geleer word. Sy glo die beskerming van vroue en kinders moet ook voorop deur gemeenskappe gestel word.

“Met toenemende geslagsgebaseerde geweld, is dit belangrik dat ons fokus op die dapperheid van hierdie bemanning. Hulle het vasgestaan om weerloses te beskerm.”

Die kadette van die TS Birkenhead SA Sea Cadets onder leiding van luitenant Noel Dreyer (vooraan) het die gedenkparade gelei . Seeman Aluno Veldman het die Reivelle tydens die parade op die beuel gespeel. (Foto: Elize Parker)

Vir die hoof van die Gansbaai Toerismeburo, Glenda Kitley, was die plasing van ʼn ruiker namens die gemeenskap aan die voet van die herdenkingsaltaar by die vuurtoring ʼn teken dat iets opbouends uit die tragedie voortgespruit het.

“Die Danger Point-vuurtoring soos hy vandag hier staan, is in 1895 in werking gestel en is tot voordeel van alle seelui deur die jare in werking gehou.”

Kitley sê nasate van die destydse oorlewendes het nog tot voor Covid-19 uitgebreek het, soortgelyke geleenthede bygewoon. Sarah Drury van die Verenigde Koninkryk was een van die mees onlangse besoekers.

Die nasate stam ook uit die oorlewendes van bemanningslede wat daarin kon slaag om die sowat vyf kilometer na die strand te swem. Van die paniekerige bemanning is egter deur die gebied se legendariese grootwithaaie opgevreet.

Die herdenkingsviering is afgesluit met kransleggings deur die lede van die Memorable Order of the Tin Hats. Die organisasie is ná die Eerste Wêreldoorlog gestig om gesneuweldes se gesinne te help.

Verskeie organisasies waaronder die Memorable Order of the Tin Hats en die Gansbaai Toerisme Buro sowel as die TS Birkenhead SA Sea Cadets het kranse neergelê. (Foto: Elize Parker)

Eerwaarde dr. James Gray van die United Church in Hermanus en bekende geskiedkundige , het die sowat 100 belangstellendes wat die gedenkparade by die Danger Point-vuurtoring bygewoon het, toegespreek. (Foto: Elize Parker)

Marc Robson was die doedelsakspeler tydens die parade van die gedenkvieringe rondom die HMS Birkenhead-skip by die Danger Point-vuurtoring naby Gansbaai. (Foto: Elize Parker)

Freda Mc Gregor van Gansbaai woon jaarliks die seremonie ter see by. Sy het roosmaryntakkies op die water ter herdenking van die slagoffers se lewens gegooi. (Foto: Elize Parker)

Die parade ter herdenking van die HMS Birkenhead-skip, het Sondag by die Danger Point-vuurtoring naby Gansbaai plaasgevind. (Foto: Elize Parker)

Verskeie organisasies waaronder die Memorable Order of the Tin Hats en die Gansbaai Toerisme Buro sowel as die TS Birkenhead SA Sea Cadets het kranse neergelê. (Foto: Elize Parker)

Die s krywer SD Fourie (heel regs) het vanjaar die gedenkreis op een van die vyf bote saam met Tristan Fourie (links) en Mariaan Burger meegemaak. (Foto: Elize Parker)

Kyk ‘n video oor die gedenkdiens hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Baie interessant. Bitter min van die soldate wat so in gelid moes staan , kon hulself help , want weinig kon swem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.