[Foto’s] Sneeu val in SA; paaie gesluit

Sneeu in Lady Grey in die Oos-Kaap (krediet aan Karel van Bosch). Foto: Twitter via @ReenvalSA

Suid-Afrikaners moes vandeesweek die warm komberse en warmwatersakke weer nadertrek nadat sneeu op verskeie plekke in die land geval het.

Talle sosialemediagebruikers het foto’s van die spierwit sneeu gedeel wat van KwaZulu-Natal tot in die Oos-Kaap voorgekom het. Van die plekke waar daar reeds sneeu geval het, sluit in Zastron in die Vrystaat, Hogsback en Elliot in die Oos-Kaap, Impendle naby Howick in KwaZulu-Natal, Lesotho en Barrydale in die Wes-Kaap.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër vandeesweek gesê die kouefront wat die Wes-Kaap Dinsdag bereik het, sal later in die week koue weerstoestande tot gevolg hê onder meer in die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng namate die front in ʼn noordelike rigting beweeg. Verdere sneeuneerslae word oor die suidelike en sentrale Drakensberg en die noord-oostelike dele van die Oos-Kaap verwag.

Sneeu in Elliot in die Oos-Kaap. Foto: Twitter via @corne06946803

Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens Donderdag gewaarsku dat verskeie passe reeds gesluit is op plekke waar nog sneeu vir die res van die week verwag word. Passe wat van Donderdagoggend gesluit is, is die Wapadsbergpas op die R61 tussen Cradock en Lootsberg, die Lootsbergpas op die N9 tussen Middelburg en Graaff-Reinet en die Barkly-pas op die R58 tussen Elliot en Barkly-Oos.

Paaie wat weens sneeuneerslae as gevaarlik beskou word, sluit in die R56 tussen Molteno en Dordrecht, die Nico Malan-pas op die R67 naby Seymour, die Kraairivierpas tussen Barkly-Oos en Elliot, die Penhoekpas op die N6 tussen Queenstown en Jamestown en die R58 tussen Barkly-Oos en Lady Grey.

Hier onder is ʼn paar van die pragtige sneeufoto’s wat reeds op sosiale media gedeel is. Stuur gerus jou sneeufoto’s na [email protected] en vertel ons waar en wanneer dit geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Diereliefhebber ·

Ek hoop met alles in my dat die mense hulle diere binne die huis hou in die yslike koue!!

Uvonka ·

OMS!! Dit is te pragtig maar ek kry sommer weer van voor af koud! Ek sekondeer Diereliefhebber!!!

Kom Ons Boks ·

Die fotos is pragtig! Lyk my dis toe nie te laat om die kindertjies sneeu te gaan wys nie. Wonder wat se’ die globale verwarming mensies deesdae???

Ouma ·

Ek het op ‘n klein plattelandse dorpie 6 myl van die grens van Lesotho af groot geword. Ons het maar altyd eers hierdie tyd van die jaar sneeu gekry. My pa is op 18 Augustus 20 jaar gelede daar begrawe, en dit was só koud die dag, mens het nie geweet of jy van koue of hartseer bibber nie. Kapok-tyd het alles in ‘n sprokieswêreld verander! Alles was spierwit: die straaltjie water het ge-ys soos dit uit die kraan gedrup het. Die ogiesdraad om die erf, die bome, strate en dakke was wit van die kapok. Onbeskryflik mooi en stil. Dan het ons biltong, droeë wors, gedroogte vrugte en neute en vrugterolletjies uit die sloop gekry en na spookstories voor die koolstoof geluister. Té bang om dit verder na binne in die koue huis te waag om te gaan slaap. Daar was nie elektriese komberse en warm onderklere soos vandag nie- boonop was langbroeke vir vroue nog sonde! Vandag bly ek in Gauteng, en gemeet aan dáárdie koue, was geen winter hier nog vir my koud nie. Ek het gedink ons was arm. Vandag besef ek ons was RYK!

Ellie ·

Wow verlang ek nou na my eie Ouma’s! Ek het nou sommer ‘n knop in my keel.

HB ·

Ouma, pragtige stukkie wat jy geskryf het. Kan dit sommer alles in my geestesoog sien.

Linette ·

Lyk my die weerberigte word eers ernstig opgeneem as die koue front die Noordeliker dele van ons land bereik. In die Wes-Kaap bibber ons al van Dinsdag af – die eerste sneeu-neerslae het al Dinsdag begin op die Matroosberg en dié is nou lekker toe onder ‘n koue kombersie (die ‘lekker’ gedeelte is nie so lekker nie – dis VREK koud!), maar eers toe die koue front nou sneeuneerslag op die Drakensberge gooi, word daar gesê hoe die mense bibber, terwyl ons Kapenaars al LANKAL bibber. Maar ons is verheug, want sneeu op die berge word water wat in ons riviere en damme vloei en ons het dit bitter nodig.

Willie E ·

Pragtig….ons het nie juis rerig koud gekry hierdie winter nie,maar ek hoop rerig hierdie is die winter wat nou “Ta Ta” se….come on summer!!!!….

popeye ·

Dis nie nodig om aan te hou wonder wat die globale verwarming-mensies nou sê nie. Ek stel voor dat daar opgehou word om te kyk na eilande van normaliteit. Kyk TV, lees boeke, kyk die nuus, doen navorsing as jy die kapasiteit het vir soiets. Die planeet in GEHEEL se weerpatrone verander. Globale verwarming se ‘kop-prentjie” is beslis nie algehele hittige warm woestyne oral nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.