Foto’s: Snerpende koue, sneeu laat Suid-Afrikaners bibber

Sutherland lê toe onder sneeukombers (Foto: Elke van Wyk)

Die afgelope week het twee kouefronte veral oor die suidelike deel van die land voorgekom en Suid-Afrikaners regoor die land laat bibber van die koue. Minimum temperature het Woensdagoggend tot ver onder vriespunt in die meeste provinsies gedaal en sneeu het in dele van die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat geval.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) voorspel boonop nóg koue vir die res van die week.

Kgolofelo Mahlangu, ’n weervoorspeller verbonde aan die SAW, sê dele in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap het die laagste minimum temperature Woensdagoggend aangeteken.

Volgens Mahlangu is ’n minimum temperatuur van -7 ˚C in Bloemfontein bereik, gevolg deur Bethlehem met -6 ˚C en Welkom met -5 ˚C. In die Noord-Kaap het Kimberley -6 ˚C, Sutherland -5 ˚C, De Aar -4 ˚C en Upington -2 ˚C aangeteken.

Potchefstroom het die laagste minimum temperatuur (-6 ˚C) in Noordwes bereik. Verder het Klerksdorp -5 ˚C en Rustenburg -4 ˚C aangeteken.

Inwoners van die suidelike gedeeltes van Gauteng moes hulself ook staal teen die bibberweer. ’n Minimum temperatuur van -5 ˚C is in Vereeniging aangeteken en -3 ˚C in Johannesburg. In Mpumalanga het die kwik in Ermelo tot -5 ˚C en in Standerton tot – 4˚C gedaal.

Mahlangu sê die laagste maksimum temperature wat Dinsdag aangeteken is, was in Sutherland (4 ˚C), Calvinia (9 ˚C) en Kimberley (10 ˚C) in die Noord-Kaap; Bloemfontein (8 ˚C) in die Vrystaat; Graaff-Reinet (9 ˚C), Cradock (8 ˚C) en Queenstown (9 ˚C) in die Oos-Kaap; en Vereeniging (10 ˚C) in Gauteng. Die maksimum temperature vir al hierdie plekke gaan Woensdag deur die dag tot net bo 10˚ C styg.

Sneeu in Colesberg (Foto: Fanie Pretorius via South African Weather Service Twitter)

Mahlangu sê erge ryp het ook Woensdagoggend in die Vrystaat, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die sentrale en westelike dele van die Noordwes, asook die noordelike binneland van die Oos-Kaap voorgekom.

Volgens Mahlangu sal temperature die komende naweek begin klim en normaliseer. Sy sê sover lyk dit nie asof nog ’n kouefront die land binne die volgende week gaan tref nie.

Sneeu het ook sedert die naweek in die hoogliggende gebiede in die Wes- en Oos-Kaap, sowel as die suidelike gebiede van die Noord-Kaap en Lesotho uitgesak. Selfs dele van die Karoo het sneeu gekry.

Plekke soos Matroosberg naby Ceres, die Cederberge, die Hexrivierberge, die Overberg-gebied, die Swartbergpas naby Oudtshoorn, Swellendam, Somerset-Wes, Stellenbosch en die Paarl in die Wes-Kaap lê dik onder sneeu.

Sneeu het ook in hoogliggende gebiede in die Oos-Kaap rondom Graaff-Reinet, Nieu-Bethesda, Queenstown, Barkly-Oos en Rhodes, asook in dele van die Vrystaat geval. Die suidelike dele van die Noord-Kaap rondom Sutherland, Calvinia en Fraserburg lê ook onder ʼn sneeukombers bedek.

Ligte donsige sneeuvlokkies, wat meer soos ysreën gelyk het, het Dinsdag Bloemfonteiners aan die gons gehad. Mahlangu sê die sneeu het nie kans gehad om op die grond op te hoop nie, omdat die temperature te warm was. “Ons vermoed dat dit sneeu kon wees, want dit was sagte, donsige vlokkies,” sê Mahlangu.

Snow Report SA het op sy Facebook-blad foto’s geplaas van dele van die Karoo wat sneeu gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
katerinadiekat

Ai hier in Mpumalanga sal ons sekerlik nooit sneeu sien nie. Ek is al 55 en sou dit so graag een keer wou beleef voor my afsterwe.