Foto’s: Soektog na Klarissa duur voort

(Foto: Orania Beweging)

Ondanks ʼn sterk stroom en die vlak van die Oranjerivier wat die afgelope paar dae beduidend gestyg het, duur die soektog na die 19-jarige Klarissa Joubert steeds voort.

Joost Strydom, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, sê die soektog na Joubert word selfs verder verskerp met meer vrywilligers, bote en jetski’s wat na die jong sielkundestudent help soek.

Joubert en nog vriende het Donderdagmiddag op binnebande in die rivier afgedryf toe die band oënskynlik omgeslaan en Joubert in die water beland het. Haar maats het haar kort daarna uit die oog verloor, maar so gou moontlik hulp ontbied.

‘n Snuffelhond begin die oewer fynkam. (Foto: Orania Beweging)

Strydom sê mense op rubberbote en twee snuffelhonde fynkam die gebied terwyl helikopters dit bespied.

Orania se veiligheidsdienste werk ook nou saam met die polisie, landbouverenigings en veiligheidsgroepe, selfs vanaf Douglas, om die gebied te help fynkam.

(Foto: Orania Beweging)

Spreiligte word op sommige plekke deurnag by brûe ingespan vir enige teken van die jong vrou.

“Die samewerking en energie van die gemeenskap is fenomenaal. Hier is elke dag net meer vrywilligers.”

ʼn Kostent is opgerig om te verseker almal wat aan die soektog deelneem, word versorg. Skenkings vir ʼn hulpfonds om onder meer die brandstof vir die bote en helikopters te finansier, is reeds op die been gebring. Bydraes word van oor die land ontvang, het Strydom gesê.

“Die familie het ook weer hul dankbaarheid betuig teenoor die polisie se soek-en-reddingspan onder leiding van kapt. John Seeley, asook al die vrywilligers en veiligheidsdienste betrokke.”

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die polisie se soektog na Joubert duur ook onverwyld voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LD ·

Sjoe dis nou al so lank…… Ons hou aan bid vir ñ wonderwerke!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.