[Foto’s] Solidariteit Beweging betoon eer aan slagoffers van plaasmoorde

Mariandra Heunis en haar kinders. Foto: Reint Dykema

Die Solidariteit Beweging, verskeie bekendes en lede van die publiek het vanoggend by die Voortrekkermonument in Pretoria aan ’n bewusmakingsaksie teen plaasmoorde deelgeneem.

Meer as 250 mense was by dié byeenkoms waar ds. Tiaan Jordaan van die Kruiskerk gesê het ons treur vandag oor wat in ons land aangaan en oor elke plaasmoord. Maar ons treur nie soos mense sonder hoop nie omdat ons weet dat Christus aan die kruis vir ons die oorwinning behaal het.

’n Minuut van stilte is ook gehou vir die slagoffers van plaasmoorde waarna wit kruise ter nagedagtenis aan hulle neergelê is.

Onder die mense wat die verrigtinge bygewoon het, was Mariandra Heunis, ’n ma van vier wie se man, Johan, verlede jaar op 1 Oktober voor hulle op hul kleinhoewe in Kameeldrift, noordoos van Pretoria, doodgeskiet is. “Mense verstaan nie die vrees en trauma wat ná so iets deel van ’n mens se lewe is nie. Maar ek moes ’n keuse maak hoe ek dit gaan hanteer en hoe ek vir my kinders gaan lewe. My keuse is om op hoop te fokus en dit is die boodskap wat ek glo ons moet bring.”

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het verwys na familielede soos sy oom Frik wat op sy plaas doodgeskop is. “Ons treur vandag saam met die grond. Ons treur saam met duisende mense wie se pa’s, ma’s, kinders, familie, vriende en gemeenskapslede vermoor is. Met ’n plaasaanval treur plase saam met families, die werkers, die wilgers, die diere en die grond. Ons wil vandag wys dat ons saam met slagoffers treur en daar is vir hulle wat agtergebly het. Ons besef julle is eensaam, maar ons wil vir julle wys julle is nie alleen nie.”

Hermann het gesê deur vandag swart te dra, gaan nie die probleem oplos nie, maar dit hou die saak op die agenda. “Ons wys ons gaan nie stilbly nie en nie toelaat dat dit die norm word nie.”

Hy het gesê die boodskap word vandag vir die staat uitgestuur dat hy sy burgers versaak. Hy het ook ’n beroep op die burgers gedoen om self verantwoordelikheid te aanvaar vir hul veiligheid.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê dit is een van die swartste jare nog wat plaasmoorde betref. Sedert die begin van die jaar was daar reeds 71 plaasmoorde. “As dit teen hierdie tempo aangaan, gaan ons oor vyf of tien jaar nie meer boere oorhê nie.”

Foto: Reint Dykema

Hy het gesê die wreedheid wat met die aanvalle gepaardgaan, is onaanvaarbaar. ’n Boer het ’n drie keer groter kans om vermoor te word as ’n polisieman. Ons sit met ’n massiewe krisis en min. Fikile Mbalula (van polisie) sien dit duidelik nie raak nie. Ons moet ons eiendom en ons lewe beskerm en seker maak dat ons binne die raamwerk van die wet optree.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die boodskap is vandag uitgestuur dat ons moeg is vir wat hier gebeur. “Maar dit help nie om hoop te verloor nie. Ons mag nie sê dis verby, die oormag is te groot nie. In ons geskiedenis het mense voor baie groot uitdagings te staan gekom en hulle het gesê hulle gaan nie slagoffers van die geskiedenis wees nie, maar help om dit te herskryf. Wat ons vandag doen, is om ’n nuwe geskiedenis te skryf. Dit kan egter nie vandag hier eindig nie. Ons almal moet iets doen. As jy vandag hier wegstap en deel word van ’n buurtwag of veiligheidstruktuur, is dit ’n begin en gaan dit help.”

Ernst Roets. Foto: Reint Dykema

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê vandag is ’n duidelike bewys dat mense teen plaasmoorde kan saamstaan.  Hy het uitgevaar teen die regering en Mbalula wat die omvang en erns van plaasmoorde steeds misken. “Geen moord, lewe of mens is belangriker as ’n ander nie. Maar plaasmoorde het bepaalde gevolge. Boere is nie net individue nie, maar ook werkskeppers en voedselprodusente. Ons is in ’n unieke konfliksituasie in die land gewikkel waar mense slagoffers van wrede geweld en aanvalle is waar hulle in hul eie kombuise geslaan, in hul gange geskop en in hul eie beddens vermoor word. Dit kan nie so aangaan nie.”

Derduisende Suid-Afrikaners het vandag aan #SwartMaandag deelgeneem deur swart te dra uit eerbetoon vir die land se boere wat vermoor is. Talle paaie is ook versper en gebedsbyeenkomste is gehou.

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

Foto: Reint Dykema

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.