Foto’s: Solidariteit Helpende Hand verskaf kos aan lede wat swaarkry weens mynstaking

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand

Dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand

Meer foto’s volg onderaan die berig.

Solidariteit Helpende Hand het vandag tien ton kos tydens uitreikaksies in Mooinooi en Rustenburg aan Solidariteit-lede versprei. Dit kom nadat Helpende Hand die platinumgordel tot ʼn gedeeltelike rampgebied verklaar het vanweë die staking wat drie maande gelede by platinummyne begin het. Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in.

Solidariteit-lede het vandag die jongste inligting oor die stand van die staking en onderhandelinge ontvang, terwyl Helpende Hand sy aksieplan aangekondig het om aan lede optimale bystand te bied. Helpende Hand het 24 kg-kospakkies en ander vars produkte versprei en aan lede die geleentheid gebied om vertroulik toegang tot emosionele en skuldberading te kry.Foto3

“Inwoners van Rustenburg, Brits en Mooinooi is op hul knieë gedwing deur die finansiële gevolge van die voortslepende staking by myne in die platinumgordel,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Toonbeelde van die dringende nood is skole in die area wat hul bestaande voedingskemas drasties moes uitbrei, ’n hoërskoolseun wat tydens ’n rugbyoefening flou geval het nadat hy dae laas geëet het en ’n mynwerker wat selfmoord gepleeg het weens die finansiële druk.”

Solidariteit se lede staak nie, maar duisende gesinne ervaar nogtans ernstige finansiële nood aangesien beide werknemers en kontrakteurs sedert die begin van die staking min of geen inkomste verdien nie.Foto2

Brink het tydens vandag se uitreikaksie by Mooinooi gesê dat Helpende Hand by uitstek dié organisasie is wat namens Solidariteit armoede in die breër gemeenskap aanspreek. “Somtyds is dit egter nodig om na ons eie mense te kyk en daardie tyd is nou. Die tyd het aangebreek dat ons ons fokus inwaarts keer om seker te maak ons staan alle Solidariteit-lede by en om seker te maak dat ons nou, soos ons naam aandui, voorwaar Solidariteit se Helpende Hand is.”

ʼn Rampfonds waartoe Helpende Hand reeds R100 000 bygedra het, is gestig om Solidariteit se lede by te staan. Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, SMS “STAAKNIE” na 34388, of besoek www.staaknie.co.za.

Bydraes vir die rampfonds kan in die volgende rekening inbetaal word:

Solidariteit Helpende Hand
Absa Bank (Trustrekening)
Rekeningnommer: 9082262243
Takkode: 632005
Verwysing: Rustenburg Rampfonds

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

As hierdie werklikheid nie ‘n traan biggel oor die wang sal niks nie. Dit is nou dat ons moet saamstaan en help, die nood is groot. Laat ons wat kan, die gegewens onderaan die berig mildelik gebruik en die hand van hulp uitstrek na die wat in nood verkeer.
Dink daaraan wanneer ons vanaand wel gevoed rustig aan die slaap gaan raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.