[Foto’s] Staking by gevangenis lei tot ontsnapping

Die Kutama Sinthumule-maksimumveiligheidsgevangenis buite Louis Trichardt. Foto: Via Geogroup.com

ʼn Grootskaalse soektog is van stapel gestuur na ses gevaarlike gevangenes wat Donderdagaand uit aanhouding by die Kutama Sinthumule-maksimumveiligheidsgevangenis buite Louis Trichardt in Limpopo ontsnap het.

Brig. Mojapelo Motlafela, polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê tronkbewaarders het glo vroeër begin staak en die gevangenes het munt geslaan uit die situasie.

“Hulle het op ʼn verwoestingstog gegaan, voorwerpe aan die brand gesteek en skade aan die eiendom aangerig. Tydens die chaos kon ses gevangenes daarin slaag om te ontsnap,” het Motlafela gesê.

Motlafela het gesê beamptes van die polisie se openbare orde- en sigbarepolisie-eenheid het daarin geslaag om die situasie by die gevangenis onder bedwang te bring. “Die situasie is onder beheer en owerhede is tans besig om die ontsnaptes se identiteite, ouderdomme en rede vir aanhouding vas te stel, waarna inligting oor hulle uitgereik sal word.”

Motlafela het inwoners versoek om op die uitkyk te wees vir verdagte persone. Die gevangenes het groen oorpakke aangehad toe hulle ontsnap het. Hy het gesê die publiek moet dadelik hul naaste polisiestasie bel as hulle onraad vermoed en nie die verdagtes self in hegtenis probeer neem nie, aangesien hulle as gevaarlik beskou word.

Die polisie ondersoek sake van kwaadwillige saakbeskadiging, brandstigting, intimidasie en die ontsnapping uit wettige aanhouding.

Die woordvoerder van Kutama Sinthumule was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.