Foto’s: Stapper met kabelkar op berg gered

(Foto: Wildernis-soek-en-redding/Facebook)

ʼn Kabelkar en altesame 20 reddingswerkers is Saterdag ingespan om ʼn man op Tafelberg te red nadat hy tydens ʼn staptog geval en homself erg beseer het.

Dié manier om stappers in nood te red is een wat gereeld deur reddingswerkers gebruik word, maar is daarmee saam een van die duurste reddingsmetodes.

Lede van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is Saterdag na Tafelberg in Kaapstad ontbied nadat ʼn 38-jarige man geval het terwyl hy op ʼn moeilike deel van die Indië Venster-roete onder Fountain Ledge opgeskarrel het.

ʼn Lid van die man se stapgroep het hulp ontbied en paramedici kon daarin slaag om die stapper se toestand te stabiliseer voordat hulle hom op ʼn draagbaar vasgemaak het.

Terwyl paramedici die man behandel het, het ander lede van WSAR bevestig dat ʼn helikopter nie gebruik kon word om die stapper na veiligheid te neem nie, aangesien hul ligging te naby aan die kabelkar se kabels was.

“Verskillende alternatiewe om die stapper by ʼn ambulans te kry is oorweeg: Reddingswerkers kon die pasiënt teen die berg op dra, hom af dra, of die draagbaar meer as 100 m reguit teen die krans ophys tot by die boonste kabelkar,” lui The Mountain Club of South Africa se verklaring oor die voorval.

“In oorleg met die span van die Table Mountain Aerial Cable Way is daar besluit om die pasiënt op te hys tot by ʼn nabye kabelkar.”

(Foto: Wildernis-soek-en-redding/Facebook)

ʼn Tweede span het ingespring en die nodige toerusting voorberei en gewag vir ʼn geskikte tyd waartydens die kabelkarre uit diens gestel kon word.

Die eerste span het die pasiënt op die draagbaar na ʼn punt direk onder die kabelkar se kabels verskuif. Die pasiënt is tot by die kabelkar gehys en na veiligheid geneem waar ʼn ambulans hom na ʼn hospitaal geneem het.

“Hierdie proses is oor baie jare verfyn om verskeie praktiese probleme te oorkom, soos om in ʼn beperkte ruimte soos ʼn kabelkar te werk en die tyd te verminder waartydens ʼn kabelkar uit diens gestel word.”

Hoewel reddingspogings van hierdie aard vereis dat die gereelde kabelkardiens gestaak word, het dit die voordeel om reddingswerkers ʼn lang, moeilike en gevaarlike staptog te spaar.

Die gebruik van ʼn kabelkar is een van die sterkste, maar duurste reddingsmetodes wat tot reddingswerkers in Kaapstad se beskikking is. Die tweede duurste metode is die gebruik van helikopters.

“Kabelkarre het wel indrukwekkende operasionele parameters insover dit reddingspogings betref, aangesien dit tot vyf ton kan ophys, terwyl die hoofspoorkabels van die kabelbaan ʼn breeksterkte van meer as 230 ton het.”

Lede van WSAR het die beseerde man ʼn vinnige herstel toegewens en die toeriste van Tafelberg bedank vir hul geduld terwyl die man gered is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anna84 ·

Ek kry sommer hoogtevrees deur net na die fotos te kyk. Indrukwekkende reddingspoging. Well done!!

Tersie ·

Knap gedaan julle. Sjoe ek kan nie dit doen met my hoogtevrees nie. Uitstekende werk.

domheks ·

Het al baie gewonder – wie betaal vir die redding pogings? Ek neem aan die stappers moet darem iets bydra, Al is dit van hulle mediesefondse af.

Jaco ·

Almal betrokke is vrywilligers en baie koste word deur skenkings gedek, dalk word n eis teen medies of versekering gesit maar nie altyd

piet ·

Hulle sal my oe moet toebind as hulle my so langs die kranse laat hang in ‘n harnas, ek dink ek sal uit pass. Ek sal nie daai mense se werk kan doen nie, hoogtevrees. Dankie tog vir sulke mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.