[Foto’s] Storm rig reuseskade aan in Wes-Rand

Erge skade wat deur ʼn verwoestende storm aangerig is by Laerskool Protearif in Krugersdorp (9 Oktober 2017). Foto: Facebook

Een mens is dood, minstens vier beseer, verskeie geboue verwoes en talle mense dakloos gelaat toe ʼn hewige storm die Gautengse Wes-Rand Maandagmiddag getref het.

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 16:45 na ʼn kleinhoewe in die Krugersdorp-omgewing ontbied. Drie mense het in ʼn stoorkamer op die kleinhoewe skuiling teen die storm gesoek toe die dak van die gebou en gedeeltes van die mure op hulle ineengestort het.

“Paramedici het drie mense op die toneel behandel. Een van die pasiënte, ʼn man in sy 20’s, het ernstige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer. ʼn Tweede man, vermoedelik in sy 40’s, het matige beserings opgedoen. ʼn Derde man, ongeveer 30 jaar oud, het erge beserings opgedoen en tragies op die toneel gesterf,” het Dollman gesê.

Die man in sy 20’s is per helikopter na ʼn hospitaal in Johannesburg geneem.

Erge skade wat deur ʼn verwoestende storm aangerig is by ʼn winkelsentrum in Krugersdorp (9 Oktober 2017). Foto: ER24

Russel Meiring, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is ook Maandagmiddag na ʼn winkelsentrum in Krugersdorp ontbied waar ʼn gedeelte van die dak weens die storm bo-op lede van die publiek ineengestort het. “Twee mense het geringe tot matige beserings opgedoen. Gelukkig is geen ernstige of noodlottige beserings op die toneel aangemeld nie,” het Meiring gesê.

Veiligheidsbeamptes het die gebied ontruim terwyl paramedici die twee beseerdes behandel het. Die beseerdes is daarna na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Intussen het talle geboue erg onder die swaar reën, hael en stormsterk winde deurgeloop. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het volgens berigte bevestig dat hy ondersoek instel na bewerings dat ʼn klein tornado deur die gebied geruk het. Verskeie paaie is oorspoel en motoriste is gestrand gelaat, terwyl sommige voertuie se vensters deur die reusehaelkorrels stukkend geslaan is.

ʼn Gebou is deur die storm verwoes op ʼn kleinhoewe in Krugersdorp (9 Oktober 2017). Foto: Netcare 911

Verskeie sosialemediagebruikers het foto’s gedeel van bome wat omgewaai het en huise se vensters wat deur die haelkorrels stukkend geslaan is.

Laerskool Protearif in Krugersdorp het uitgebreide skade opgedoen en gedeeltes van die skool se dak is heeltemal afgeruk. Lugfoto’s van die skool wat op sosiale media versprei is, toon hoe die skoolgebou op plekke heeltemal sonder ʼn dak gelaat is met puin en wrakstukke van die gebou wat oor die terrein verspreid lê. Die skool het bevestig dat hy weens die verwoestende skade tot verdere kennisgewing gesluit sal wees en het ouers versoek om ʼn tydelike reëling met hul kinders te tref.

Nkosana Zali, woordvoerder vir Mogale City, het gesê talle inwoners aan die Wes-Rand is weens die storm sonder heenkome gelaat. “Minstens 64 mense in Tarlton en 35 mense in Munsieville benodig huisvesting, terwyl die dakke van 80% van die Mayibuye- informele nedersetting se huise afgeruk is,” het Zali gesê.

“Dit is nou maar net die minimum skade wat reeds deur die gemeenskappe aangemeld is. Die prentjie sal nog verander namate ons die situasie verder evalueer. Die kosteberaming van die skade sal bekendgemaak wanneer ons [Dinsdag] die volle assessering gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jeanne ·

Goeie genade, kan nie glo mens bly net ‘n paar kilometers van waar hierdie skade aangerig is en ons het beswaarlik reen gehad nie. STERKTE met die opbouproses .. jammer oor die groot skade, dit is verskriklik. ‘n Natuurramp is niemand se maat nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.