Foto’s: Streng sekuriteit by hof waar Zuma gaan verskyn

Die toneel buite die hof. Foto: ANA.

Sekuriteit was teen Vrydagoggend baie streng buite die Durbanse hooggeregshof waar voormalige pres. Jacob Zuma binnekort op aanklagte van korrupsie en bedrog sal verskyn.

Die hof was van 06:00 af gesluit vir die publiek en Zuma se veiligheidsmagte het die perseel deursoek. Die hof sal eers ná 11:00 oop wees vir sake van die publiek.

Polisiesnuffelhonde het omstreeks 06:30 reeds die perseel deursoek en sal telkens in die loop van die dag weer deur die perseel gaan.

Zuma sal na verwagting verskyn op 16 aanklagte wat verband hou met die omstrede wapentransaksie van die laat 1990’s met die Franse wapenvervaardiger Thales.

Zuma het glo 783 onwettige betalings deur middel van Shabir Shaik, sy voormalige finansiële raadgewer, ontvang wat 15 jaar tronkstraf opgelê is, maar slegs ʼn klein deel van sy vonnis uitgedien het voor hy op mediese parool vrygelaat is.

Die aanklagte teen Zuma is in April 2009 teruggetrek, maar hy het ná ʼn lang stryd teen die DA die hofgeding verloor om die besluit te laat hersien om die aanklagte te laat vaar.

Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het in Maart aangekondig dat daar ʼn redelike vooruitsig van skuldigbevinding is. Zuma sal vervolg word vir een aanklag van afpersing, twee aanklagte van korrupsie, een van geldwassery en 12 aanklagte van bedrog.

Die staat het ʼn lys van 207 getuies hoewel nie almal na verwagting opgeroep sal word nie.

Intussen het Carl Niehaus, woordvoerder van uMkhonto we Sizwe Military Veterans Association (MKMVA), in aanloop tot die langverwagte hofsaak gesê Zuma is ʼn ongelooflike man.

“Hy is wat my betref ʼn ongelooflike man. Maak nie saak watter probleme hom in die gesig staar nie, jy sien nooit die spanning nie,” het Niehaus vir African News Agency buite die hof gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Gustav ·

Ek sal verbaas wees as iets met Zuma gaan gebeur, dit is net nog ‘n fees wat ons gaan geld kos

CAROL ·

Stem saam – ons almal weet natuurlik niks gaan van hierdie ding afkom nie

snoefie ·

dan word k hy nog soos royalty behandel. gaan seker eers 11.30 opdaag.

Ben ·

Net nog baie duisende rande van belastinggeld vanoggend deur die SAPS spandeer om nog een van talle ANC potensiële kriminele te laat goed lyk, en te beskerm. En die enigste plek waar hierdie absurde, oordrewe optrede stopgesit kan word sal die stembusse wees.

Cherokee ·

Die Zuma-aanhangers vergader in die strate by die duisende. Belangrike strate is afgesper. Metropolisie het hul hande vol om die skare te beheer. Victoria Embankment, wat een van die belangrikste roetes is tussen die M4 en die stad/hawe, is toegemaak. Soos reeds elders gesê, ek het personeel om 9vm al van diens laat gaan. Hopelik sal daar nie vandalisme wees nie.

Gerrit ·

Hoekom kry hy spesiale behandeling hy verskyn nie daar as n staatshoof nie maar as n gewone persoon wat aangekla is van misdade waarvoor hy tronk toe kan gaan as hy skuldig bevind word

Neels ·

Ek was nog altyd onder die indruk dat iemand wat bedrog gepleeg het , gearresteer word en dan moet aansoek doen vir borg. Is daar dan twee regstelsels in hierdie land.

JM ·

Ja Neels het jy nie geweet daar is al van 1994 twee regstelselsnie. Een vir wit en een vir swart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.