Foto’s: Stropers kry bloedneus in Tafelberg-reservaat

SANParke slaan toe op ‘n stroperskamp naby Tafelberg. (Foto: Twitter/ SANParke)

Wetstoepassers in Kaapstad het ʼn stokkie gesteek voor die beplande stroping van perlemoen, nadat ʼn reusestropingskamp in die Tafelberg- nasionale park ontdek is.

Lede van SANParke en die see, lug en bergspan (SAMT) het Vrydag op die kamp in die suidelike dele van die park afgekom. Luidens ʼn twiet deur SANParke het helikoptervlieëniers op die groot, aktiewe kamp in die Kaap van Goeie Hoop-afdeling in die park afgekom.

“Die span het afgekom op duiktoerusting en ander items wat gebruik word vir die onwettige stroping van perlemoen. Hoewel niemand in hegtenis geneem is nie, is hierdie operasie suksesvol uitgevoer deur almal daarby betrokke,” lui die twiet.

Wetstoepassers het beslag gelê op dié toerusting, wat paddavoete en duikpakke insluit. Die park is gevolglik Vrydag deeglik gepatrolleer om toeriste se veiligheid te verseker.

Maroela Media het vantevore berig die Wes-Kaap stry die afgelope 20 jaar reeds ʼn opdraande stryd teen perlemoenstropers. Die Weermag is selfs in Februarie in die Overstrand-munisipaliteit ontplooi om die voortgaande stroping van perlemoen aan die Weskus hok te slaan.

Perlemoen wat aan die Suid-Afrikaanse kus gestroop word, word hoofsaaklik na Oos-Asië, veral Hongkong, uitgevoer, waar dit as ʼn spesialisdis beskou word, berig AFP.

Volgens George Branch, ʼn mariene bioloog verbonde aan die Universiteit Kaapstad, het die getalle vir rotskreef reeds in 2018 dramaties gedaal tot net 2,5% van die oorspronklike bevolking.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
SjN

Volgens foto moet daar minstens 9 stropers betrokke wees, hul Kan mos nie net verdwyn in die park nie?