Foto’s: Sutherland weer in wit getooi

Sneeu in Sutherland in die Noord-Kaap. (Foto: Chantel via Storm Report/Twitter)

Sutherland in die Noord-Kaap het Dinsdagoggend nog onder ’n laag sneeu gelê toe die voorspelde kouefront – soos verwag – na die binneland versprei het.

Jacqueline Modika, weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het aan Maroela Media gesê sneeu word vanaf Maandag in die Wes-Kaap, suidelike hoë gebiede van die Noord-Kaap, asook die Oos-Kaapse Hoogland aangemeld. Dit sluit dele van die Drakensbergreeks in.

Maroela Media het vroeër berig winde langs die kus sal na verwagting Dinsdag bedaar, namate die kouefront na die sentrale provinsies beweeg. “Dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en Noord-Kaap sal dan nóg kouer word. Ryp word ook sedert Woensdag vir groot dele van die sentrale binneland voorspel,” het die weerdiens voorspel.

Sneeu by Sutherland se sterrewag in die Noord-Kaap. (Foto: Thea Koen via Storm Report/Twitter)

Foto’s word intussen op sosiale media gedeel van veral Sutherland en omliggende gebiede wat onder ʼn sneeukombers toegegooi is. Foto’s van sneeu in die omgewing van Worcester, Ceres en Matroosberg doen ook die ronde.

Modika sê die weerdiens voorspel egter nie verdere sneeu vir die res van die week nie, behalwe vir die Drakensberg waar sneeu nog effens later vandag kan val.

Volgens Modika word koue toestande wel vir die res van die week in die binneland verwag.

Modika sê voorts die weerdiens het tans twee waarskuwings wat in die kusgebiede geld. Dit sluit in ’n vlak 2-waarskuwing teen sterk golwe, asook ’n waarskuwing teen sterk winde aan die Oos-Kaapse en KwaZulu-Natalse kus.

Sneeu by Sutherland se sterrewag in die Noord-Kaap. (Foto: Thea Koen via Storm Report/Twitter)

Sneeu by Sutherland se sterrewag in die Noord-Kaap. (Foto: Thea Koen via Storm Report/Twitter)

Sneeu by Sutherland se sterrewag in die Noord-Kaap. (Foto: Thea Koen via Storm Report/Twitter)

Sneeu in Sutherland in die Noord-Kaap. (Foto: Chantel via Storm Report/Twitter)

Sneeu in Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap. (Foto: Graaff Reinet Tourism/Facebook)

Sneeu in Nieu-Bethesda in die Oos-Kaap. (Foto: Graaff Reinet Tourism/Facebook)

Sneeu op die berge by Worcester in die Wes-Kaap. (Foto: Ejaz Allie via Storm Report/Twitter)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Samuel ·

Dit is pragtig. Wanneer hierdie sneeu smelt vul dit seker grondwater aan?

Tanniepetoors ·

Ongelukkig te min om grondwater aan te vul dink ek. Bogrond te droog.

Elinette ·

Glo my, dis v-v-v-vrek KOUD hier en in Worcester lê net die berge onder sneeu – ek wil nie weet hoe koud dit in Sutherland is nie.

JohanR ·

Lekker snoesig onder ‘n dekbed met vroulief, die gordyne is oop, die sneeu kom af en soe val jy aan die slaap……lekker!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.