[Foto’s] Swaar reën veroorsaak chaos

Vloedwater in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Verskaf

Vloedwater in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Verskaf

Swaar reën in Noordwes, die Vrystaat en Gauteng het Dinsdag chaos veroorsaak met motors wat in vloedwater vasgekeer is, geboue wat oorstroom het en paaie wat gesluit moes word.

In Wolmaransstad in Noordwes was talle geboue en ʼn vulstasie onder water nadat ʼn groot hoeveelheid reën in die dorp geval het. Theo de Koker van die plaaslike AfriForum-tak het aan Maroela Media gesê die N12, wat deur die dorp loop, moes gesluit word nadat die reën veroorsaak het dat die teer plek-plek opgelig het.

“Op plekke het tot 200 mm reën geval, maar teen gisteraand het die reën grootliks opgeklaar. Dit is vandag nog bewolk, maar dit reën nie op die oomblik nie,” het hy gesê. De Koker het gesê berigte dat gedeeltes van die dorp ontruim moes word omdat ʼn damwal gedreig het om te breek, is nie waar nie.

“Geen damwal het gebreek nie. Twee of drie huise moes ontruim word, asook ʼn restaurant wat langs die spruit geleë is, waardeur die vloedwater gespoel het. Die ryvlak van die Engen-vulstasie was ook onder water. Geen beserings is gelukkig aangemeld nie.”

'n Vulstasie in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Elthea van Wyk

‘n Vulstasie in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Elthea van Wyk

De Koker het ook bevestig ʼn motoris gered moes word nadat hy op die pad tussen Orkney en Leeudoringstad in die vloedwater vasgekeer is. Polisieduikers en boere uit die gemeenskap het lank gespook om die man uit die vloedwater te red, maar kon hom uiteindelik uit sy motor kry en na veiligheid bring. Volgens De Koker is die man na ʼn hospitaal in Klerksdorp geneem. “Ek dink nie hy is beseer nie, maar hy was baie geskok en koud nadat hy so lank in die water was.”

Nóg ʼn reddingsoperasie het Dinsdagmiddag in ʼn plattelandse gebied naby Koppies plaasgevind nadat ʼn skoolbus in vloedwater vasgevang is. Volgens die provinsiale nooddienste het boere uit die gemeenskap gehelp en met behulp van ʼn trekker die 23 leerders en drie volwassenes uit die vloedwater na veiligheid gebring.

Die skoolbus wat deur vloedwater meegesleur is. Foto: Facebook

Die skoolbus wat deur vloedwater meegesleur is. Foto: Facebook

“Die bus is vermoedelik deur die reënwater meegesleur en het in ʼn sloot beland. Die plaas waar dit gebeur het, is op die R723 naby die Engen-vulstasie op die N1 by Koppies,” het die provinsiale departement van gesondheid gesê. Al die insittendes van die bus is ongedeerd.

Minder as 70km verder, in die Kroonstad-gebied, was talle inwoners op plase vasgekeer nadat ʼn spruit, wat na die Valsrivier loop, oorgeloop en toegang na ʼn paar plase afgesny het. ʼn Plaaslike inwoner het aan Maroela Media gesê die Sentrale Volkskool Kroonstad, wat naby die Valsrivier geleë is, het omstreeks 11:00 ʼn SMS-boodskap aan ouers gestuur om, as veiligheidsmaatreël, hul kinders by die skool te kom haal.

In Vanderbijlpark moes ʼn mense agterop ʼn bakkie ook gered word nadat die voertuig deur ʼn rivier meegesleur is. Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van ER24, het gesê paramedici is kort voor middernag na die toneel ontbied.

Vloedwater in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Verskaf

Vloedwater in Wolmaransstad in Noordwes. Foto: Verskaf

Omstanders het gesê hulle was agterop die bakkie toe dit deur die rivier meegesleur is. Hulle kon daarin slaag om af te spring, maar ʼn volwassene en jong kind was nog agterop die bakkie vasgekeer. ʼn Waterponie is later gebruik om by hulle uit te kom en hulle na veiligheid te bring.

Kort voor 05:00 is ER24 paramedici na ʼn toneel op die R24 naby die Eastgate-afrit ontbied waar motoriste ʼn voertuig in vloedwater sien dryf het. “Die voertuig was reeds ʼn paar meter ver deur die vloedwater meegesleur, maar daar was geen teken van die insittendes nie. Die pad is afgesper en plaaslike owerhede is ontbied,” het Vermaak gesê.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) op Twitter gewaarsku swaar reën en gelokaliseerde vloede kan langs die kuslyn van KwaZulu-Natal verwag word. Hulle het ook ʼn waarskuwing uitgereik dat swaar reën, wat tot vloede kan lei, in die noordelike dele van Mpumalanga en die suidelike dele van Limpopo kan voorkom. Die swaar reën in Limpopo word hoofsaaklik vroegoggend verwag.

'n Voertuig in vloedwater op die R24 naby die Eastgate-afrit. Foto: ER24

‘n Voertuig in vloedwater op die R24 naby die Eastgate-afrit. Foto: ER24

Volgens die SAWD se jongste beskikbare reënvalsyfers, het Noordwes die meeste reënval gehad. Phitsane, ongeveer 60km van Mafikeng, het vroeër vandeesweek 124 mm gemeet, terwyl Leliefontein 102 mm gemeet het. Ottosdal het 64 mm gemeet en Mafikeng 64 mm.

Witbank in Mpumalanga het 47 mm gemeet. Wepener in die Vrystaat het 132 mm gemeet, terwyl Warden 64 mm gemeet het. Newcastle in KwaZulu-Natal het 57 mm gemeet.

Die Johannesburgse Botaniese tuine het 48 mm gehad en Wonderboom-lughawe 49 mm reën. Irene het 39 mm gemeet.

In teenstelling met die swaar reën en vloedskade, het die SAWD ook gewaarsku teen hoogsgevaarlike brandtoestande vandag in die Kaapse metropool, die Kaapse wynlande asook die Weskus-distrik in die Wes-Kaap.

Die Lindleyspoortdam naby Swartruggens in Noordwes. Hierdie video is Woensdagoggend op Facebook gedeel:

Lindleyspoortdam 6h30 Vanoggend eerste keer van 2014 wat hy weer oorloop.

Posted by Stephan Rautenbach on Tuesday, February 21, 2017

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Deneysville ·

Ek het eers 80 mm uitgegooi en daarna nog 70 mm. Ek het dus 150 mm gemeet. My reënmeter staan weg van geboue en is 2 m bokant grondoppervlakte.
Die groot voordeel van die reën is dat besoedeling nou afgeneem het in spruite, riviere en damme. So mislike palityte kan nou voortgaan met rioolstorting.

Suzy ·

Newcastle KZN het baie meer reen as net 57mm gehad . Ons reen meters het twee keer oor geloop wat ons dit moes uitgooi . Die rivier wat deur die dorp loop het sy walle oorstroom , en dele van die dorp wat naby aan die rivier is , is ook onder water . Ons kla nie ons is dankbaar vir die baie water .

Griet ·

ek wonder maar net of die Lyndleyspoortdam sluise het, en of die ouens in beheer van die sluise geweet het van die water wat kom, en of die sluise nie voor die tyd oopgemaak kon word om voortydig van die water uit te laat nie, en of dit dalk vloedskade wat nou veroorsaak word deur die dam wat oorloop, sou verminder nie.

Marietjie ·

Ek het vanoggend verby die Opel Kadet op die foto’s gery by Eastgate. Die water het amper al 4 bane toe. Ek weet nou verseker ek hoef nie die onderkant van my kar te was nie. Moes halfpad deur die water ry.

Susan ·

So jammer vir die skade! Sterkte vir elke persoon wat daardeur geraak word, maar ons is so bitter baie dankbaar oor die reën! Baie dankie Vader vir die mildelike reën!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.