[Foto’s] Swaar storm tref Ermelo

Foto: Facebook via Reënval in SA.

Foto: Facebook via Reënval in SA.

Ermelo in Mpumalanga het Sondagaand erg deurgeloop onder ʼn swaar reën- en haelbui wat oor die dorp uitgesak het.

Foto’s word wyd op sosiale media versprei van water wat kniehoogte en selfs hoër deur die winkels en motorhandelaars op die dorp se vertoonkamers stroom.

Eddie Mc Kenzie, ʼn boekhouer van Ermelo, het aan Maroela Media vertel die Ford-handelaar se glasvertoonventers het gebreek. “Ek dink nie die afvoerpype en mangate word onderhou nie, want verlede Vrydag het ʼn motor ook vasgeval in dieselfde omgewing,” het Mc Kenzie gesê.

Mc Kenzie het pizza bestel by Debonairs in die dorp en wou dit gaan afhaal ná die erge reënbui, maar moes egter “bo in die dorp stop omdat die paaie gesluit was”.

“Die reënbui het tussen 19:00 en 19:30 uitgesak en dit het vir ʼn halfuur lank kliphard gereën. In die ooste van die dorp , het dit ook baie swaar gehael. Die hael het vanoggend nog spierwit op die grasperke gelê,” het Mc Kenzie gesê. Hy sê dit het heelaand saggies gereën.

Die Suid-Afrikaanse weerdiens het Sondag 44mm reën in Ermelo gemeet.

Volgens Mc Kenzie is die The Oaks-winkelsentrum ook al vir ʼn deel van die dag gesluit. “Vriende van ons het ʼn kleuterskooltjie en dit het ook oorstroom. My ouma-hulle se rondawel ook.” Volgens Mc Kenzie het talle ander huise ook verspoel.

Opruimingspogings is reeds aan die gang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

liza ·

Sjoe is net betyds daar deur, het gesien die wolke was sommer so swart van Piet Retief se kant af…. Groot skade, maar ons moet dankbaar wees vir die reen, jammer oor die skade daar, dink aan julle…..

Stormwater ·

44mm reēn is algemeen maar die tydsduur kan probleme veroorsaak. Ek glo ook soos Mckenzie dat die geen onderhoud van stormwaterpype grotendeels verantwoordelik is vir die skade. Ook die rondlê van gemors soos stukke karton, plastieksakke ens. veroorsaak verstoppings. Ek het laas in die apartheidsjare gesien dat afvoerpype skoongemaak word. Daar is egter nie ‘n manier wat nalatigheid bewys kan word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.