[Foto’s] ‘Swart Maandag’ bring paaie tot stilstand

Foto: Facebook

Talle hoofweë en strate in Pretoria is Maandagoggend tot stilstand gebring weens optogte deur mense wat hul stem dik maak teen plaasmoorde.

ʼn Konvooi het van vroegoggend af stadig op die N1-Suid begin beweeg nadat motoriste in Zambesiweg in Montana bymekaar begin kom het. Verkeer is erg ontwrig van die Pumulani-tolhek op die N1-Suid tot by die Bothaweg-afrit. Die stadig bewegende konvooi sal na verwagting by die Bothaweg-afrit afdraai.

Verkeer is ook ontwrig op die R21 in die rigting van die lughawe terwyl die R24 ook geraak word. Die N4 word ook deur die optogte geraak. Verder in Gauteng is daar ook optogte op die R57 in die Vaaldriehoek en op die R59.

Daar is ook ontwrigting in die gebied van die Voortrekkermonument waar honderde mense na verwagting sal byeenkom vir ’n oomblik van stilte vir die slagoffers van plaasmoorde.

Foto: Twitter

Dié inisiatief is deur die burgerregte-organisasie AfriForum gereël in samewerking met die Solidariteit Beweging. By dié geleentheid sal verskeie veldtogaksies aangekondig word, wat ’n internasionale dag van protes teen plaasaanvalle en -moorde insluit.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat die organisasie oor alle misdaad besorg is, maar dat plaasaanvalle en -moorde in besonder buitengewoon en uniek is, onder meer vanweë die hoë frekwensie daarvan, die wreedheid wat dikwels daarmee gepaardgaan, die rol wat boere as voedselproduseerders speel en die feit dat boere in afgeleë gebiede woon, ver van hul bure en polisiestasies.

“Ondanks al hierdie redes het die departement van polisie geen gefokusde teenstrategie om plaasaanvalle en -moorde stop te sit nie,” sê Roets.

“By hierdie geleentheid gaan ons vir die slagoffers en die geliefdes wat agterbly, wys dat hulle nie alleen is nie en dat ons saam met hulle sal veg om hierdie wrede verskynsel stop te sit.”

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Foto: Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.