Foto’s: Talle dakloos ná brand in nedersetting  

Antonette Grobler en Rutembo Moyo met hul babas, Louise en Thanks. (Foto: Mariska Nanni)

Altesaam 50 huise in ʼn informele nedersetting in Kameeldrift-Oos, noordoos van Pretoria, is Saterdagaand deur vlamme vernietig. Dié brand het nagenoeg 120 mense dakloos gelaat.

Sedertdien het die gemeenskap, asook inwoners van dié nedersetting wat self swaarkry, kragte saamgesnoer om ondersteuning op enige manier denkbaar te bied.

Die 26-jarige Antonette Grobler, wat al sowat agt maande in dié nedersetting, bekend as Sakabuka woon, het Sondag bykans die hele dag na ʼn ma en baba gesoek wie se besittings deur die vlamme verswelg is.

“Ek het gehoor daar is ʼn ma en pasgebore baba wat alles verloor het. Ek het geweet ek moet by haar uitkom,” sê Grobler. By haar, sê Grobler, was ’n kombers en ʼn sakkie klere wat haar vyf maande oue dogtertjie, Louise, nie meer pas nie.

Grobler het eindelik Sondagmiddag laat by Rutembo Moyo (27) uitgekom. Moyo, wat al vier jaar in dié nedersetting woon, het net haar twee weke oue babadogtertjie, Thanks, in ’n kombers toegedraai en gevlug toe hul sinkhuis aan die brand slaan.

“Ons het alles verloor. Ons het nie klere, komberse of potte om in kos te maak nie,” sê Moyo.

Sy woon tans, soos talle ander mense wat sedert die brand dakloos gelaat is, by vriende in nabygeleë huise.

Die breër gemeenskap van Kameeldrift-Oos het ook saamgekom om hulp te verleen. Chris Murphy, voorsitter van Kameeldrift Trauma Support (KTS), sê die krag van gemeenskappe wat saamstaan is ongelooflik.

KTS werk sedert Sondag onophoudelik saam met vrywilligers om onder meer skenkings te sorteer en kos vir die inwoners van Sakabuka voor te berei.

“Hierdie is ’n gemeenskap wat hulleself uit die as probeer opbou.”

“Ons het baie hulp en samewerking uit die gemeenskap en van ander organisasies gekry. Daar is soveel mense wat wil help en ’n verskil maak.”

Vrywilligers verbonde aan KTS was Dinsdag besig om klere te sorteer. (Foto: Mariska Nanni)

Volgens Murphy was inwoners van die Sable Hills-landgoed, die Sinoville-krisissentrum, die Joy Unspeakable-oord en Advanced Paramedic Assist (APA) onder diegene wat hul moue onbaatsugtig  opgerol het om te help.

Murphy sê hulle het in dié stadium ten doel om te verseker dat elke persoon wat deur die brand geraak is, kos het om te eet en klere om te aan te trek.

“Daar is ook ’n ernstige behoefte aan boumateriaal, toiletware en huishoudelike middels soos potte, eetgerei en gel-stofies.”

Hy sê egter dat die behoefte baie wyer strek as net die inwoners wie se huise afgebrand het.

“Die mense kry swaar. Die brand het natuurlik ook verreikende gevolge vir die mense by wie dié inwoners [wat alles in die brand verloor het] nou bly – dit plaas baie druk op hulle om vir nóg mense te moet sorg en hulle in te neem.”

Volgens Mike Mthimunye van die Tshwane-munisipaliteit se rampbestuurseenheid, is die oorsaak van die brand nog onduidelik.

“Daar is baie bespiegelings oor wat die brand veroorsaak het. Ons skryf dit egter toe aan ’n ongeluk,” sê hy. Dié eenheid het Maandag 100 matrasse aan inwoners geskenk.

Enigiemand wat skenkings wil maak kan KTS by 076 163 2510 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

B-Man ·

Hulle wens ook so, dis hoekom hulle sal aanhou om vir leë beloftes te stem.

Belinda ·

Hulle wil…. maar kom net nie die beloftes na nie, check net, sodra die elections nader is….

Hoekom ·

Vir my baie interesant dat as jy kyk na al die fotos van vrywilligers, wat hulle tyd afstaan om ander te help, dat hulle altyd oorweldigend wit is.

Misky ·

Die foto van vrywilligers spreek boekdele….. Baie dankie vir julle onbaatsugtige hulp aan almal wat geraak word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.