Foto’s: Talle kuikens nou weer tuis by Kamfersdam

flamink-02

Altesaam 49 flaminkkuikens is stilletjies op verkiesingsdag by Kamfersdam in die Kimberley-omgewing vrygelaat. Foto: Verskaf.

Altesaam 49 flaminkkuikens is stilletjies op verkiesingsdag by Kamfersdam in die Kimberley-omgewing vrygelaat. Die proeflopie het die weg gebaan vir die amptelike vrylating van die res van die kleinflaminke by die dam later vandeesmaand.

Mike Bolhuis, wat by die reddingspoging van die voëls betrokke was, sê die vrylating is in die geheim gedoen omdat die bestuurspan eers wou seker maak dat die jong flaminke aanpas in hulle nuwe omgewing.

“Net een kuiken was nie gereed om in die water in te gaan nie. Hy het op die oewer bly sit en is na die kwarantynkamp by die Dierebeskermingsvereniging teruggevat.

“Die res van die kuikens het hard getjirp, hulle vlerke geklap en vinnig in die water in beweeg om aan die groen alge te begin vreet,” het Bolhuis, ʼn private speurder en voëlliefhebber, gesê.

Hy was een van die betrokke partye wat onder die toesig van die departement van omgewingsake sowat 2 000 van dié kuikens in Februarie van die dam gered het.

Kamfersdam het in die somer uitgedroog weens die uiterste temperature, ʼn laer reënvalsyfer en die plaaslike munisipaliteit se versuim om gesuiwerde rioolwater in die dam in te pomp, wat gewoonlik help om die watervlakke aan te vul.

Kenners reken sowat ʼn helfte van al die kuikens het gevrek, maar talle organisasies het gou ingespring en honderde kuikens is met die hand in Pretoria, Kaapstad, Durban en Kimberley grootgemaak. Hierdie kuikens is nou almal met geel genommerde ringe aan albei bene gemerk en met mikroskyfies toegerus.

Die meerderheid van die handgrootgemaakte kuikens is reeds na Kimberley teruggevlieg waar hulle onder kwarantyn aangehou is om te verseker dat hulle akklimatiseer voordat hulle tussen die wilde flaminke vrygelaat word.

“Kenners hou die geringde kuikens met verkykers van die oewer af dop. Hulle het verlede Donderdagoggend 41 van die geringde kuikens tussen die duisende ander wilde voëls opgemerk en aangeteken.”

Bolhuis het gesê hy is trots op al die mylpale wat met hierdie reddingspoging bereik is.

“Hierdie reddingspoging en die uiteindelike vrylating van die kuikens is ʼn eerste en historiese geleentheid. Niemand anders het dit nog probeer nie. Ek is werklik dankbaar vir almal se betrokkenheid en toewyding.”

Volgens hom bly die finale vrylating van die laaste kuikens afhanklik van die gereedheid van die voëls en die goedkeuring van die hoofveearts by Onderstepoort.

“Dit is ook goed om te weet die vrylating is nie die einde van hierdie proses nie. Die Sol Plaatjies Universiteit in Kimberley het saam met die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth en Onderstepoort onderneem om die flaminke op lang termyn te monitor sodat die bedreigde voëlspesie en hulle habitat bestudeer en bewaar sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Andreas ·

As die ANC regring maar so na die land kan omsien. Dalk moet mens vir Cyril en sy nuwe kabinet ‘n ‘powerpoint’ aanbieding doen.

Manie van Worcester ·

Mooi gedoen, baie baie dankie aan almal wat gehelp het.

Boerboel ·

Dankie aan almal wat gehelp het. Dis baie goed dat daar nog mense is wat vir die natuur omgee. Veral bedreigte spesies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.