Foto’s: Toegegooi onder ʼn sneeukombers

Dit kapok hier, skerts die Karoo-mense, want dit sneeu net in Europa. (Foto: Jaco van den Berg)

Die koue het sy kloue in groot dele van die land ingeslaan – bibberweer ten spyt, is talle gebiede egter steeds prentjiemooi onder ʼn sneeukombers.

Jaco van den Berg, ʼn veeboer van die Murraysburg-omgewing, sê die Karoo-mense praat nie van sneeu nie. “Ons sê dit kapok. Dit sneeu net in Europa,” skerts hy.

Hy sê hulle praat ook van droë en nat sneeu. Droë sneeu lyk baie mooi, maar het nie vreeslike waarde nie omdat dit nie die grond deurnat maak nie. Dit gebeur gewoonlik wanneer dit bitterlik koud is.

Nat sneeu aan die ander kant, veral as dit ʼn lekker 30 cm of 40 cm diep lê, help om watervlakke goed te hou.

Agri Wes-Kaap sê die koue in dié geweste is nie vreemd vir dié tyd van die jaar nie. Inteendeel, hulle verwelkom dit. Die organisasie sê die sneeu op die berge is goeie nuus omdat dit ná die winter sal help met die aanvulling van waterbronne.

Die Sneeuberge doen sy naam gestand. (Foto: Jan-Hendrik Swiegers)

“Die koue is ook nodig vir die vrugtebome wat tans in rus is. Die veeboere is vertroud met dié soort koue en tref die nodige voorsorg vir hulle diere.”

Van den Berg sê sy plaas, geleë op die mees oostelike punt van die Wes-Kaap aan die grens met die Oos-Kaap, móét sneeu in die winter kry. “Ons is baie afhanklik van fonteinwater, veral weens die bergagtige gebied waar jy nie met masjiene vir boorgate kan inkom nie.

“As ons nie sneeu in die winter kry nie, verswak dit die ondergrondse water. Die sneeu help ook om suurstof in die grond terug te sit.”

Sommige dele van Van den Berg se plaas is tot 2 300 m bo seespieël. Van omtrent die einde van Mei bring hy dus al sy diere na die laerliggende gebiede en neem hulle eers weer in die lente terug om hulle teen die koue te help beskerm.

Hy boer met merino’s, Bonsmara-beeste en ʼn vertakking Angorabokke, en Van den Berg sê hy het nog bitter min vrektes weens koue ondervind.

“Ons diere is baie gehard.”

As die koue toeslaan, maak boere egter seker diere is in kampe met genoeg natuurlike beskutting.

Van den Berg sê hulle het ook ʼn berg op die plaas wat sy voorgeslag Meelberg gedoop het omdat dit dikwels lyk of iemand meel oor die bergpieke uitgestrooi het.

Meelberg, op Jaco van den Berg se plaas in die Wes-Kaap, lê toegegooi onder ‘n sneeukombers. (Foto: Jaco van den Berg)

Talle dele van Lesotho is intussen ook toe onder ʼn lekker laag sneeu.

Die Semonkong Lodge het foto’s gedeel van die sneeu wat die gebied in ʼn amperse spierwit landskap omskep het.

Die N3-tolkonsessie het motoriste ook vroeër vandag gemaan om ekstra waaksaam op die pad te wees weens uiters koue weer, reën, mis en sterk wind wat op dele van die roete ondervind word.

In sommige gebiede was sigbaarheid ook uiters swak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Charl

Pragtig !

Karina

Bitter koud maar ‘n sprokies wêreld

Blomme

Dis nou lekker.. Goed vir die uitmergelende droogtes.