Foto’s: Toeris ernstig beseer toe hy in rotspoel spring

Foto: NSRI

Foto: NSRI

ʼn Nederlandse toeris is ernstig beseer nadat hy in die Knysna-gebied van die Tuinroete Nasionale Park in ʼn rotspoel gespring het.

Die 31-jarige ortopediese chirurg van Amsterdam en sy 26-jarige vriendin, ʼn algemene chirurg, het saam met ʼn toergids ʼn staproete gedoen toe die voorval plaasgevind het. Jerome Simonis, die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se stasiebevelvoerder in Knysna, het gesê die gids het die paartjie deur die Drupkelders-staproete geneem toe die man in die rotspoel gespring en vermoedelik ʼn fraktuur aan sy lae rug opgedoen het.

Volgens Simonis het die gids hulp ontbied. “Hoewel Drupkelders ʼn relatief kort staproete is van slegs 3,6km, is daar vertikale kranse en is die area afgeleë en bykans ontoeganklik.” Hy het gesê reddingswerkers moes sowat 1 km ver teen ʼn steil krans afklim om die Goukamma-rivier te bereik. “Van hier af het ses van die NSRI se swemmers teen die rivier op geswem om die toeriste te bereik. Hulle moes onder meer oor verskeie watervalle beweeg. Die twee stappers is sowat 1 km in die rivier op gevind en die man was in ʼn ernstige toestand.”

Simonis het gesê die beseerde man is op ʼn drywende draagbaar geplaas en versigtig stroomaf gedryf. Hy het gesê daar is spesiale sorg geneem om die man teen die verskeie watervalle af te kry. Die polisie en paramedici het sowat 1 km stroomaf op hulle gewag. Die beseerde man is op die toneel behandel voor ʼn tou-en-katrolstelsel gebruik is om die draagbaar teen ʼn steil krans na ʼn parkeerarea op te hys. “’n Ambulans van Medlife het die man in ʼn ernstige maar stabiele toestand na ʼn hospitaal vervoer,” het Simonis gesê.

SANParke het intussen gesê die toergids het nie ʼn permit gehad vir ‘kloofing’ nie. “Hulle het die regte permit gehad vir toegang tot die Drupkelders-staproete, maar ons reik nooit permitte uit vir ‘kloofing’ nie,” het Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van SANParke, gesê. “Ons laat glad nie ‘kloofing’ toe nie. Maar plaaslike toergidse doen dit egter terwyl veldwagters nie kyk nie.”

‘Kloofing’ is wanneer ʼn persoon in ʼn bergrivier of -stroom af dryf, daarin swem of selfs rondspring om die rivierroete te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.