Foto’s: Topwenke vir kinders se Kersgeskenklys


bordspeletjies

Bordspeletjies is beslis weer gewild in 2016. Foto: Blog.ticketea.com

Bordspeletjies is vanjaar weer hoog op die lys van gewilde Kersgeskenke vir kinders. Die gewilde gesinsvermaak word gevolg deur opvoedkundige en tegnologiese speelgoed, asook speelgoed wat deel van ʼn versamelreeks is.

“Ons het oor die afgelope 12 maande ʼn 40%-toename in die verkope van bordspeletjies gesien. Ek dink ouers raak al meer bewus van net hoe belangrik gesinstyd is, en hoe waardevol dit is om tyd as gesin of familie saam deur te bring,” het John Jordaan, die besturende direkteur van Prima Toys, gesê.

Ouers kan ook nie ʼn fout maak om in opvoedkundige speelgoed te belê nie. Dit bly steeds gewild en handelsname soos LeapFrog doen hope navorsing om te sorg dat kinders speel-speel aan basiese beginsels van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde bekendgestel word. “Little Tikes maak ook weer seker dat kleuters regtig kan speel met hulle speelgoedreeks. Hulle weet hierdie klein mensies se handjies is nog klein, dat hulle alles wil proe en gooi en daarom moet die speelgoed as’t ware kleuterbestand wees,” het Jordaan verduidelik.

Nog speelgoed wat hoog op ʼn kind se Kersgeskenklys sal wees, is speelgoed met hulle eie app, robotiese speelgoed en versamelitems wat deel van ʼn reeks vorm.

Jordaan het ook gesê dat speelgoed ʼn sewejaarsiklus in gewildheid volg: “Dit verklaar waarom iets soos die Teenage Mutant Ninja Turtles (TMNT) sedert 1991 herhaaldelik op kinders se versoeklys aan Kersvader verskyn. Dit is wat ons noem ʼn generasietendens – ouers koop ook graag speelgoed vir hulle kinders waarmee hulle as kind gespeel het.”

So wat is die gewildste speelgoed vir die 2016-Kerstyd? Jordaan reken die volgende speelgoed sal beslis gunstelinge wees:

  • Vir meisies: SelfieMic, Trendy Dog, NumNoms, Shopkis, Disney-prinsesse en Katie the Magical Dancing Princess-pop.
  • Vir seuns: Meccano, Tekno Puppy, TMNT, StikBot en die Grossery Gang.

Jordaan maan dat speelgoed toepaslik moet wees vir die ouderdom van die kind. “Ouers en mense wat geskenke vir kinders koop, moet veral let op die ouderdomsbeperking op die verpakking van speelgoed. Buiten dat dit gevaarlik kan wees, is daar niks meer frustrerend vir ʼn kind om met speelgoed te speel wat nie vir sy of haar ouderdomsgroep bedoel is nie. ʼn Mens maak soms die fout om te dink ʼn kind sal vinniger ontwikkel as hy of sy met speelgoed speel wat vir ʼn ouer ouderdomsgroep bedoel is, maar dit is nie die geval nie.”

  • John Jordaan het met Esté Meyer Jansen gesels oor die gewildste speelgoed vir 2016. Luister na die podsending bo-aan die berig om uit te vind watter speelgoed hy vir 2016 aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.