Foto’s: ‘Tornado’ saai verwoesting in Midvaal

Skade wat deur ʼn beweerde “tornado” in die Vaal Marina-gebied in Midvaal, Gauteng aangerig is (11 Desember 2017). Foto: Twitter via @ReenvalSA/JJ van Rooyen

Minstens 50 mense is beseer toe ʼn beweerde tornado Maandag uitgebreide skade in die Vaal Marina-gebied in Midvaal, Gauteng, veroorsaak het.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het net na 18:00 op die toneel aangekom waar stormsterk winde verwoesting gesaai het. Huise se dakke het afgewaai en kragdrade is beskadig. “Mense op die toneel het dit aan die paramedici as ʼn tornado beskryf,” het Van Huyssteen gesê.

Paramedici het gevind minstens 50 mense het geringe beserings opgedoen. “Die helfte van die pasiënte is op die toneel behandel, terwyl 25 mense deur ER24 en ʼn ander ambulansdiens na ʼn hospitaal geneem is.”

Van Huyssteen het gesê die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

Bongani Baloyi, burgemeester van Midvaal, het in ʼn mediaverklaring die storm as ʼn tornado bestempel. Hy het gesê ongeveer 300 gesinne het skade aan hul huise aangemeld en sommige huise is heeltemal verwoes. Infrastruktuur in die gebied is ook beskadig.

Skade wat deur ʼn beweerde “tornado” in die Vaal Marina-gebied in Midvaal, Gauteng aangerig is (11 Desember 2017). Foto: ER24

“Die munisipaliteit en plaaslike gemeenskapsleiers het daklose inwoners gehelp met tydelike skuiling en sal begin om die omvang van die skade en die koste om huise te herbou te assesseer,” het Baloyi gesê. “Twee hulpsentrums in Mamello en die Vaal Marina-stadsaal is opgestel om diegene te help wat deur die tornado geaffekteer is.”

Baloyi het gesê nooddienste het die gebied deur die nag gemonitor om inwoners by te staan.

Die Suid-Afrikaans Weerdiens (SAWD) het op sy amptelike Twitter-kanaal foto’s gedeel van reuse haelkorrels wat Maandagaand in die Midvaal-gebied geval het, maar het nie bevestig of dit wel ʼn tornado was wat die gebied getref het nie.

Tornado’s is egter nie ongewoon in Gauteng nie. In Oktober het die weerdiens bevestig dat ʼn tornado in Ruimsig in Gauteng waargeneem is toe talle geboue erg onder swaar reën, hael en stormsterk winde deurgeloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann Marx ·

Die mensdom het hierdie planeet nou so uitgemergel dat niks meer gematig is nie. As dit nie droogte is nie, is dit tornado’s. Die seisoene het heeltemal deurmekaar geraak….

Alida ·

Wat kan die SAPD doen aan ‘n natuurramp? Watse ondersoek wil hulle doen?

SjN ·

Alida, ek wonder wat was toe die bevinding mbt die ondersoek na weerlig in KZN,
Gerd, die polisie was wel op die toneel.

Johnny ·

Wat is n beweerde tornado? Daar is genoeg bewyse en foto’s om dit n tornado te noem. Ek kom vandaar af. Sterkte vir al die inwoners wat geraak is

Seg maar net ·

As dit nie ‘n tornado was nie, wat was dit dan? Iets met Guptas te doen???? Belaglik

Vermeende ·

MM, hoekom betwis julle alles, hoekom noem julle alles as “beweerde”
Kan ek vir julle n foto stuur van die tornado op n afstand geneem, of beweer julle dat julle leser nie weet hoe n tornado lyk nie of beweer julle dat hierdie self aangerigte skade is of hierdie die werk van n somer windjie was.
Julle lesers is baie beter ingelig aswat julle hulle krediet voor wil gee.

bloues ·

Vermeende, bedaar tog. Hier was al baie sterk storms in SA wat nie gekwalifiseer het as n tornado nie. Totdat die weerdiens bevestig het dat dit wel ‘n tornado was verwys ons almal maar na ‘n “tornado” . Dis hoe dit moet wees. Eish tog

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.