Foto’s: Trane, dankbaarheid na hemel se sluise oor Namibië oopgaan

Die Nautedam op 5 Januarie 2021. (Foto: Marnus Drotski)

“Die mense se gevoel van dankbaarheid is oorweldigend. Daar is mense in gedeeltes van die land wat tien jaar laas reën gesien het.”

Só sê Stefan Saayman, inwoner van Namibië, oor die reënval en vloede in die suide van dié Afrikaland wat tans die grootste oorstromings sedert die negentigs beleef.

The Namibian berig dat die Nautedam, die land se derde grootste oppervlakreservoir, volgens die Nasionale Hidrologiese Dienste (NHS) vroeër vandeesweek 117,8% vol was. Die Nautedam het ʼn stoorkapasiteit van 83,5 miljoen kubieke meter.

“Verlede jaar se reënseisoen was taamlik goed en het die droogte van die vorige vier tot vyf jaar gedeeltelik gebreek, maar daar was nog groot gedeeltes van die land wat nie voldoende reën gekry het nie. Hierdie reën is ʼn gróót uitkoms,” sê Saayman.

Hy sê verskeie mense vertel dat hulle spontaan in trane uitgebars het uit dankbaarheid vir die reënval.

“Alle dorpe is afhanklik van damme wat slegs invloei het wanneer dit genoeg reën sodat die damme invloei kry. Op die oomblik lyk dit of niemand in die land oorgeslaan word nie en die noordelike helfte van die land, wat ook die laaste paar jaar ondergemiddelde reënval gehad het, kry ook tans baie welkome reën.”

Die Nautedam op 5 Januarie 2021. (Foto: Marnus Drotski)

Saayman vertel hy het in die week voor Kersdag tussen Windhoek en Keetmanshoop gereis toe die reën begin val en die paaie plek-plek oorspoel het.

Die Visrivier, wat in die Naukluft-berge begin en na die Hardapdam naby Mariental vloei en in die Oranjerivier uitmond, is ook tans vir die eerste keer in bykans ʼn dekade in vloed. Plekke soos Ai-Ais, Alexanderbaai, Oranjemund en Sendelingsdrif het ook oorspoel.

“Binne ʼn kwessie van drie weke het hier ʼn ongelooflike wonderwerk plaasgevind. Ideaal gesproke moet daar opvolgreën kom later in hierdie seisoen, veral op plekke waar dit baie droog was. So ons wil vertrou dat die reën nie nou sal verdwyn nie.”

Talle mense het op die Namibiese radiostasie Kanaal 7 se Facebook-blad op Saayman se foto’s van die oorstromings gereageer.

“Ons God is groot. Altyd betyds met seëning en dan in oorvloed daarvan! Dankie Abba,” skryf Lezane van der Merwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.