Foto’s: Trane vloei toe boer stapper teen plaasmoorde ontmoet

Duncan Nyawo, die stapper teen plaasmoorde, ontmoet sy naamgenoot, dr. Duncan Prinsloo. Foto: Reint Dykema

Duncan Nyawo, die stapper teen plaasmoorde, ontmoet sy naamgenoot, dr. Duncan Prinsloo. Foto: Reint Dykema

’n Emosionele en hartverskeurende toneel het vanmiddag op die plaas Vaalbank, buite Bronkhorstspruit, afgespeel waar Duncan Nyawo, die stapper teen plaasmoorde, sy naamgenoot, dr. Duncan Prinsloo, ontmoet het wat in 2008 die slagoffer van ’n wrede plaasaanval was.

Prinsloo, ’n boer en veearts, wat in sy onderlyf verlam is en met krukke oor die weg moet kom, het op sy knieë neergesak toe hy Nyawo ontmoet het en hom bedank vir sy bewusmakingsveldtog teen plaasaanvalle en –moorde.“Ek haal vandag my hoed vir jou af. Dankie vir wat jy doen en dat jy vir ons opstaan.”

Nyawo en sy vier medestappers het trane in hul oë gekry toe hulle sien hoe moeilik Prinsloo beweeg.“Ek is jammer oor wat met jou gebeur het. Wat besig is om in land te gebeur, is verkeerd,” het Nyawo gesê.

Hy het vertel dat hy as kind by ’n Senekal-egpaar op ’n plaas grootgeword het waar hy soos hul eie kind behandel is. “Hulle is wreed vermoor en my drome om eendag ’n dokter te word, is saam met hulle begrawe.”

Nyawo is tans ’n studente-onderwyser by die Ngodini Secondry School in Kabokweni, Mpumalanga.

Hy het Maandag op Vryheidsdag met ’n staptog van 350 km van Nelspruit na die Uniegebou in Pretoria begin om mense van plaasmoorde en moorde op polisielede bewus te maak. Nyawo het gesê dit is tyd dat alle Suid-Afrikaners besef hulle het mekaar nodig en dat hulle in vrede moet saamleef. “Niemand is vry as mense vermoor word nie.”

Nyawo het gesê dit is tyd dat die regering en groepe in die land die belangrike rol van boere besef. “Diegene wat die heeltyd uitsprake oor grondeise maak, kan nie eens hul eie erwe bewerk nie, wat nog te sê van ’n plaas. As mense die boere wat hard werk se grond net wil vat, moet hulle hul maar eerder by (Robert) Mugabe-hulle gaan aansluit.”

Prinsloo het Nyawo bedank vir die insig wat hy in die land se probleme het en dat hy bereid is om daaroor te praat.

Hy het bewoë vertel van die aanval in November 2008 waartydens sy vrou, Laetitia, doodgeskiet en hy swaar gewond is.

“Dit gaan maar baie moeilik. Ek het steeds geweldig baie pyn en lewe op pille. Ek is baie onstabiel en het geen gevoel in my bene nie, wat dit moeilik maak om my werk te doen.”

Prinsloo spesialiseer steeds in bees- en perde-embrio’s.

Hy het gesê min mense besef wat die impak wat ’n plaasmoord of aanval agterna op die gesin en wyer gemeenskap het. Sy dogter, wat destyds in gr.11 was en haar ma dood in die bed aangetref het, moes jare lank berading kry. “Ek het my sielsmaat verloor en dit was en is steeds nie maklik nie.

“My plaas het uitmekaar geval en baie werksgeleenthede het verlore gegaan.”

Prinsloo het gesê sy geloof is al wat hom dra. “Ek dank die Here dat ek Sy kind is en dit kan bely. Ek hou vas aan die Woord wat sê niks sal met my gebeur waarmee God nie ’n doel het nie.”

Die Prinsloos se aanvallers is nooit aangekeer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Jaco Flemix ·

Hier is n bewys dat as ons bid sal ons God mense se harte oopmaak

Lientjie ·

Dis n baie brawe en positiewe stap na anvaarding vir almal wat in hierdie land hul kant bring… Asb Maroela… bietjie video sal soveel doen om hierdie jong man se saak te bevorder… ons wil deel wees al kan ons nie stap nie!

Zaan ·

Dankie Duncan! Mag daar meer mense soos jy in ons samelewing wees! Ek haal my hoed vir jou af! Mooi so!

Neptunus ·

Hierdie was nou ‘n goed geskryfde stuk gewees, en terselfdertyd stof tot nadenke ook.

Yolanda ·

Woordeloos, voel moedeloos, lyk hopeloos, te veel om te troos. Mag God ingryp en mag mense soos Duncan die wêreld verander, ons wêreld, Suid-Afrika. Laat dit by my en jou begin. UBUSAZI NA??? Kufanele ube yile nguquko onqwenela ukuyibona emhlabeni.” Vuyani!!!!

Lindie Lourens ·

My trane moes ek ook wegpink. ‘n Brawe man. Nie net om te stap nie, maar ook oor dit wat hy glo en sê en leef.
Ek wil eintlik niks negatiefs oor hierdie dapper daad sê nie, maar- waarom stap hulle met hul rug na die aankomende verkeer?Dis dan wanneer voetgangers raakgery word. Die padreël wat ek ken is: stap regs( sodat jy die aankomende verkeer kan dophou en uitswaai as die voertuig dalk op jou afstuur), ry links. [ Ek het die video op die nuus gesien- vandaar die opmerking oor die stappery.]

Anton wiid ·

Duncan toon baie volwassenheid. Ons moet hom baie erkenning gee. Ons kan by hom leer.

snip ·

Wonderlike daad!!!!! Vergeet van dokter word, maak hom president, met sy siening is dit al hoe die land gered sal word. Wens meer dink en redineer so.

Therese van Schalkwyk ·

Hierdie is een van die aangrypendste stories wat ek in ‘n baie lang ruk lees. Duncan Nyawo en sy mede-stappers is helde in my oë. Hulle bewusmakingsveldtog teen plaasmoorde, en spesifiek hierdie ontmoeting met Duncan Prinsloo, verdien internasionale mediadekking.

Die Nyawo-staptog is veral merkwaardig omdat die Rooi Oktober-veldtog teen die einste plaasmoorde uit alle oorde, en veral deur die Afrikaanse gemeenskap, gekritiseer en belaglik gemaak is. Die apatiese reaksie van die oorgrote meerderheid was uiters teleurstellend.

Gelukkig is daar tekens dat die boere-gemeenskap nou, na meer as 20 jaar en duisende moorde later, begin saamstaan en planne fnuik. Voorheen is gedienstig en gedweë ingeval by regeringsplanne om kommando’s te sluit en wettige wapens is by die duisende in polisiehande ingehandig; dieselfde polisiemag wat tot vandag toe nog nie die Prinsloos se moordenaars gevang het nie.

Pierre Oosthuizen ·

Duncan, dankie, jou staptog is ‘n baie groot stap vorentoe vir ons land. Dit gaan nie kriminele minder maak nie, maar dit gaan baie sienings verander.
Theresa die verskil hier en met Red October is dat Duncan se teenkanting nie ‘n rassekwessie aanvoer nie.
Een man se veldtog beteken hier meer en gaan meer vrugte gee as honderde by Red October, as gevolg daarvan.

gloudine ·

He deserves the Nobel Peace Price for his awareness campaign. May God bless & keep him safe so he can carry on with his good work.

fanus ·

Baie goeie werk Duncan en sy stappers. Daar is nog mense wat dink en voel soos Duncan. Dit is lekker om positiewe nuus te lees en te sien.

Chris ·

Dit is n baie dapper ding wat hierdie man doen, dit maak my ook positief oor die moontlikhede wat hierdie land kan in hou, as daar meer mense soos hy daar buite is. Dit gese breuk dit my om te sien n ou boer wat op sy kniee gaan voor die jong man om sy dankbaarheid te wys, dit bring trane in my oe om te sien hoe moedeloos en seer ons mense het. Vir my persoonlik is dit baie kragtige fotos.

Maryna ·

As hierdie land genoeg mense het soos Duncan, dan sal die toekoms blink wees. Wat ‘n voorbeeld is hy nie vir ons almal.

Petro ·

Tree af in zim zuma en al sy travante maak plek vir Duncan in die president se stoel!!!!

Martha ·

Dit is die meeste positiewe kommentaar wat ek in’n lank tyd gelees het. Met die gesindheid kan Suid-Afrika tot meer as ‘n wêreldklasland ontwikkel word en sal ons werklik in vrede kan leef en werk, maar dit is seker wensdenkery. Ek sal ook vir hom stem om president van ons land te wees.

Annelle Kurtz ·

Dit is die heel eerste keer wat ek sien hoe ‘n Swart man opstaan vir wit boere op ‘n manier wat werklik ‘n verskil kan maak. Dit gee my soveel hoop dat ons almal tog in vrede sal kan saamleef. Thank you Duncan: you give this country hope! The African soil is hungry for blood, but people like you are the ones who can saturate it with true compassion and understanding, building it into a prosperous Nation in stead of braking it down with resentment/revenge.

Lucas ·

i will donate money to this cause. Do they have a site or something

Hein Boshoff ·

Ons benodig 55 miljoen sulke stappers in ons land om ons weer tot verdraagsaamheid en aanvaarding te lei. Well done and thank you Duncan for setting the right example.

Juanita ·

Did is mense soos Duncan wat on in ons toekoms moet sien. Duncan miskien is jy want ons mooi land moet oorvat. Insperasie vir almal.

Oloff ·

Wat n inspirerende verhaal. As die man n dokter wil word dan moet hy n dokter word en gehelp word om sy doelwit te bereik.
Kan ons nie n fonds stig wat hom op sy pad kan kry nie? Dit gaan nie baiemenseverg om hom te befonds nie.
Sy poging is baiemeer werd as geld en verdien hy om gehelp te word,dis die minste wat ons kan doen.

Dankie Duncan

Pierre Oosthuizen ·

net die positiewe komentaar op hierdie berig alleen bring trane van opgewondenheid oor die vermoë van ons mense om vorentoe te kan kyk en nie heeltyd agtertoe nie.
Ek voel weer trots Afrikaans.
Dankie

Marge Erasmus, 2 Mei 2015 ·

Duncan Prinsloo is my neef, ‘n wonderlike man wat Jesus in sy LEWE Het en met wat sy familie moes deur gaan, is soooo onnodig. As ons almal maar soos Hy sy naaste kan vergeeve en met Liefde behandel soos Hy, sal Suid Afrika Leer om met mekaar klaar te Kom. Duncan wat loop vir Liefde en VREDE, ons is soo beindruk met jy en jou Stappers. Prys die Here dat daar nog sulke wonderlike mense is. Ons kan leer uit die twee “DUNCANS” wat GOD met naaste Liefde bedoel. Geseend is julle . Ek bid dat ons Hemel Vader julle sal dra in sy Liefde. Voorspoed aan al 2 Duncans.

Elize Strydom ·

Hier is weereens die bewys dat die blanke nasie nie rasisties is nie en graag saam met mense werk wie dieselfde waardes as ons handhaaf, hoe kan ons die feit tot hulle laat deurdring? niemand is negatief of neerhalend nie maar ondersteun hierdie man. As hulle net die begrip kon verstaan.

Elaine ·

Dankie Duncan, ‘n regte held en ook ‘n oog oopmaker vir ons almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.