[Foto’s] Transitorowers in hof

Foto: Verskaf.

Die agt verdagtes wat kort ná ʼn transitorooftog in Lebowakgomo in hegtenis geneem is, het Donderdag in die landdroshof op dié dorp in Limpopo verskyn.

Hulle het verskyn op aanklagte van gewapende roof, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie asook die besit van gesteelde voertuie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn vermeende rower is doodgeskiet en nog sewe verdagtes in hegtenis geneem kort nadat ʼn transitovoertuig naby Lebowakgomo beroof is. Dit het sedertdien aan die lig gekom dat agt verdagtes vasgetrek is en ʼn negende rower doodgeskiet is.

Die verdagtes is Khutso Masemola (42), Mbengeni Dingo (27), Prince Ndinisa (27), Nicolas Mabaso (34), Lekoko Kgatuke (36), Jeffry Maphaki (52), Oscar Molokoane (34) en Osiel Dladla (48). Die verdagte wat doodgeskiet is, is as David Mokete (52) geïdentifiseer.

Kapt. Mamphaswa Seabi, woordvoerder van die polisie, het gesê die verdagtes het Dinsdagmiddag op die G4S-transitovoertuig toegeslaan en ʼn onbevestigde bedrag kontant geroof.

Die res van die verdagtes het in die rigting van Ga-Masemola gevlug en die polisie het hulle agternagesit. Volgens Seabi het daar tydens die jaagtog ʼn skietgeveg tussen die polisie en die rowers ontstaan en een van die rowers is doodgeskiet. “Die kontant en vyf vuurwapens is sedertdien teruggekry,” het Seabi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.