Foto’s: Tregardt-gedenktuin in Mosambiek opgeknap

Jaco Cilliers en Phillip Dreyer hard aan die werk om die mosaïek-uitbeelding by die Louis Tregardt-gedenktuin op te knap. (Foto: Verskaf)

Die unieke mosaïek-uitbeelding by die Louis Tregardt-gedenktuin in Maputo, Mosambiek, is blinkgepoets deur ’n span van die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting.

Die Erfenisstigting is verantwoordelik vir die bewaring van terreine soos die Tregardt-gedenktuin, Bloedrivier-erfenisterrein en verskeie konsentrasiekampbegraafplase.

Die Tregardt-gedenktuin, met die mosaïekbeeld wat die Voortrekkerleier Tregardt (ook gespel Trichardt) se trek uitbeeld, is amptelik in 1968 deur oudminister Jan de Klerk geopen.

Verskeie van die mosaïekteëltjies het oor die jare gebreek, losgetrek en verdwyn en die opknappingspan het ingetree sodat daar nie verdere verweer kan plaasvind nie.

Die AfriForum TV-program, Byt en Buskruit, met bekende kunstenaar Adam Tas as aanbieder, het as deel van een van hulle episodes ook dié opknappingswerk opgeneem.

Tas en die sanger Ruhan du Toit, wat deel was van die episode, het met groot lof gepraat oor die werk wat gedoen is.

“So min mense weet dat daar ’n monument vir die Voortrekkers in een van ons buurlande opgerig is. Dit wys jou die deursettingsvermoë wat mense soos Louis Tregardt gehad het,” sê Tas.

“Dit is ongelooflik om te sien dat organisasies soos die Erfenisstigting na afgeleë terreine omsien. Hulle het ongelooflike werk gedoen om die monument op te knap.”

Phillip Dreyer besig om die teëltjies te verseël. (Foto: Verskaf)

Chris de Jager, ’n plaaslike sakeman in Mosambiek, het opnuut ook bevestig dat sy onderneming die gedenktuin se tuin in stand sal hou, veiligheid sal verskaf en die algemene instandhouding van die gedenktuin sal behartig.

Jaco Cilliers, hoof van erfenisbewaring by die Erfenisstigting, het sy dank uitgespreek teenoor De Jager en die werk wat daar gedoen word om die gedenktuin te bewaar.

“As dit nie vir hulp van mense soos Chris was nie, sou dit nie moontlik gewees het om die gedenktuin so goed in stand te hou nie en daarvoor kan ons nie genoeg dankie sê nie,” sê Cilliers.

“Hierdie monument is ’n belangrike deel van ons geskiedenis. Dit dui nie net die roete van Tregardt aan nie, maar dien ook as bewys dat die Voortrekkers positiewe verhoudings buite die grense van Suid-Afrika gehandhaaf het.

“Dit was ’n ongelooflike voorreg en ’n persoonlike hoogtepunt om aan die herstel van die monument te kon deelneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jandup ·

Ons het hier in Trichardt (Mpumalanga) ook ‘n gedenkplaat van Carolus Trichardt na wie die dorpie vernoem is. Onder die gedenkplaat is daar ‘n hoeksteen vanuit die huis waarin Carolus gewoon het. Hy het sy voorletters uitgekerf op die hoeksteen.
Ek het fotos en heelwat geskiedenis ingesamel omtrent die hoeksteen

Misky ·

Lekker om te sien Port Elizabeth se naam steeds daar en nie verander nie. Geskiedenis is daar vir ewig en kan nie net uitgevee en verander word nie.

Misky ·

Toe nie, word inderdaad so gespel en gaan lees graag op. Nie seker waarom verskillend van ander spellings nie.

Robert ·

Dit is een van die intresante dinge van stamboom navorsing, vanne se spelling verander om verskeie redes, nie almal was goed gelettered in die vorige jare nie en dus is daar heelwat “verkeerde spelling” van vanne opgeteken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.