Foto’s: Treinongeluk eis minstens drie; byna 250 beseer

Die twee treine was van Mabopane na Pretoria se middestad onderweg. Foto: HALO Aviation

Minstens drie mense is dood en nagenoeg 200 beseer in die treinbotsing wat Dinsdagoggend by ʼn stasie in die weste van Pretoria plaasgevind het.

ʼn Metrorail-passasierstrein het Dinsdag omstreeks 09:15 by die Mountain View-stasie in Groblerstraat van agter in ʼn ander passasierstrein vasgery, het Lillian Mofokeng, Gautengse Metrorail-woordvoerder, kort ná die voorval aan Maroela Media bevestig.

“Albei treine was op dieselfde spoorlyn vanaf Mabopane in Pretoria se rigting onderweg,” het sy later in ’n verklaring gesê.  “Tshwane-nooddienste het ongelukkig bevestig dat drie pendelaars noodlottig beseer is. 82 het matige beserings opgedoen en 159 is gering beseer.”

Volgens Werner Vermaak, ER24-woordvoerder, het hulle en talle ander nooddienste se paramedici by hul aankoms op die toneel gesien hoe talle waens van albei treine op die spoor oorhel. “Talle passasiers is óf in die treine aangetref óf waar hulle op die toneel rondgeloop het.”

Van die treinwaens het omgeslaan. Foto: Tshwane-nooddienste

Paramedici het onmiddellik ʼn triage opgestel waar hulle pasiënte se beserings kon assesseer, sê Vermaak. “Drie van die pasiënte se beserings was noodlottig. Hulle is later op die toneel dood verklaar.”

Solly Msimanga, Tshwane se burgemeester wat self op die toneel was, het om 11:39 getwiet die dodetal staan op vier. Hy het sy innige simpatie met die naasbestaandes van die slagoffers betuig.

Volgens Vermaak het sowat 200 pendelaars se beserings van gering tot kritiek gewissel. Paramedici het hulle op die toneel behandel en die kritiek beseerdes op die toneel gevorderde lewensondersteuning gebied.

Dr. Neville Vlok het aan Maroela Media gesê twee kritiek beseerde pasiënte is deur HALO Aviation na nabygeleë traumahospitale vervoer.

Vermaak sê ander passasiers is per ambulans na verskeie hospitale vir behandeling geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Bollie ·

Ek weet nie hoekom, dalk is ek dom, maar ek nog altyd gedink daar twee spore omdat een in een rigting gaan, en die ander een die ander rigting, maar nes Gautrein, dring hulle daarop aan dat die treine aan dieselfde kant albei rigtings ry, dalk as hulle een rigting een spoor toepas sal daar dalk minder ongelukke wees, of mis ek iets?

Lientjie ·

Dis nog altyd so gewees. Dis die persoon wat die sinjale beheer wat nie meer omgee wat gebeur nie.

Andre ·

Sinjale is deesdae outomaties, word nie meer deur iemand beheer nie.

Renier Lubbe ·

Volgens die artikel was albei treine in dieselfde rigting onderweg en die een het van agter in die ander vasgery.

ULINDA ·

dit is verskriklik om die minste te sê, ongelukke is seker niemand se skuld
maar die mense het so min
die distrik Tshwane hospitaal en steve biko gons behoorlik
hoop nie nog onskuldige mense kom om in die verskriklike ding

Wonder weer ·

Tragies! Maar nou wonder ek was dit nie ongeveer dieselfde tyd velede jaar wat die groot treinongeluk buite Kroonstad gebeur het wat ook baie sterftes tot volg gehad het nie, weet dit niks met mekaar te doen nie wonder maar net?

Lou ·

@Bollie
Die treine was altwee in dieselfde rigting op pad as ek reg lees. Die een het in die ander een se agterkant vasgery. Die twee rigting teorie sou dus geen verskil gemaak het in die geval nie.

Gert ·

Weens regstellende aksie en BEE is alle bevoegde tegniese personeel nou weggejaag, dus stort die sinjalering nou inmekaar. Slegs werkende sinjalering kon hierdie ongeluk voorkom het, treindrywers het nie tyd om betyds te stop as hulle op spoed is nie.
Verwag al hoe meer treinongelukke.

zoom zoom ·

Die getal beseerdes van 250 Klink vir my of dit ‘n thumb suck getal is.

Koos ·

Zoom zoom. Ek was op die toneel. 250 dink ek was te nim, ek dink dis moes meer wees. Dis tonele wat my hele lewe by my sal bybly. Ek is net bitter trots op my gemeenskap. Almal het in gespring en gehelp. Die nooddienste, staat en privaat, verdien ‘n Bells. Goeie werk en dankie aan ieder en elk!!!!!

MelR ·

Andre, sinjale is automaties wanneer dit in ‘n werkende toestand is. Gert – 100% reg – sinjale nie in werkende toestand nie, kabel diefstal groot problem ens ens. Ry elke dag trein na Kaapstad – elke dag vertragings oor sinjale wat buite werking is – vertragings partykeer tot soveel as 60 minute. PRASA? PRASA wie?

Johanna Botha ·

Hoeveel trein ongelukke moet ons nog van lees …dis eers dit dan weer dit en dan die en dan daardie ene se skuld …..ag is mos maar net n ‘job’ kannie wag vir die 25ste !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.