Foto’s: Treinstasie se tuine ná jare weer opgeknap

Die treinstasie in Grootbrakrivier was eens op ‘n tyd ‘n groot toeriste-aantreklikheid (Foto: Verskaf)

Die tuine van Grootbrakrivier se historiese treinstasie was eens op ʼn tyd ʼn skouspelagtige botaniese juweel, maar het oor die jare verwaarloos geraak. Gemeenskapslede het egter genoeg gehad van dié verval en self ingespring om die tuine tot hul eertydse glorie te herstel.

Lede van die Grootbrakrivier-bewarea kom nou elke Woensdag bymekaar om die tuine skoon te maak en op te knap.

Dié tuine – van sowat 1,7 ha – is in 1942 gestig en behoort aan Transnet. Dit was oor die jare die treinstasie se trots met sy inheemse plantegroei, veelvuldige waterkenmerke (soos fonteine en watervalle), droë klip-terrasmure, wandelpaaie en versorgde grasperke.

Volgens Vivienne Holt, die stigter van die opknappingsprojek en lid van die bewarea, is die tuine tot in die middel 1990’s aktief deur die gemeenskap benut en troues is selfs in dié pragtuine gehou.

“Die tuine was ʼn plek waar die gemeenskap bymekaargekom en die lewe saam gevier het,” sê Holt aan Maroela Media.

Die tuine het selfs nasionale erkenning gekry.

“Treinstasies landwyd het destyds meegeding om in aanmerking te kom vir die Lady Duncan-trofee vir die mooiste tuine. Die Grootbrakrivier-stasie se tuine het vier keer dié trofee verower.”

Gedurende die afgelope ongeveer 30 jaar het die tuine egter verwaarloos geraak, met die wandelpaadjies wat met gras toegegroei is en van die inheemse plante wat bedek is met onkruid. Die tuine het ook onder vandalisme en diewe deurgeloop.

“Dit is hoofsaaklik omdat die tuine nie meer onderhou word soos voorheen nie. Transnet het vroeër jare sy eie span gehad wat daarna omgesien het.”

Die gemeenskap het ook nie meer die tuine soos vroeër jare benut nie, namate die passasierstreine al hoe minder geloop het.

Die tuine herleef

Holt het die tuine sowat drie jaar gelede herontdek en besluit om in samewerking met haar mede-bewarea-lede ʼn projek te onderneem waarin hulle die tuine opknap sodat dit weer behoorlik waardeer kan word. Die nodige toestemming vir die opknapping is by Transnet gekry.

Daar is twee botaniste onder dié lede wat help om van die plante te identifiseer.

“Met die skoonmaak van die onkruid ontdek ons wonderlike inheemse plante en bome van tot 80 jaar oud. Elke dag is soos ʼn skattejag.”

Die span het ook naambordjies by die plante en bome begin oprig om besoekers te laat voel asof hulle in ʼn botaniese tuin loop.

Daar is tydens die Covid-19-pandemie tydelik halt geroep met die projek, maar die opknappingspan het vanjaar weer volstoom met die projek weggespring.

“Eers het ons die projek uit ons eie sakke gefinansier, maar ons het vanjaar ʼn borg gekry, naamlik Rowland and Leta Trust. Hulle gaan ons vir ʼn jaar finansier sodat ons die nodige gereedskap vir die projek kan koop en ook twee werkers – wat ons in die tuin help – kan betaal. Só skep ons in die proses ook werk.”

Holt sê die skoonmaak van die tuine kan moontlik nog die volgende ses tot sewe maande duur en van daar af sal gereelde onderhoud van die tuine nodig wees.

Die bewarea wil met die opknappingsprojek die tuine weer aan die gemeenskap “teruggee” en ook weer toeriste na die tuine lok. Hulle wil boonop die geskiedenis van tuine in die proses bewaar.

“Ons wil hê inwoners en toeriste moet weer die tuine besoek en die ruimte geniet, aangesien dit só ʼn spesiale plek is. Hulle moet weer op die wandelpaadjies tussen die bome rondwandel.”

Vir Holt en die opknappingspan het die tuine ook ʼn spesiale plek geword waar hulle opnuut “vrede” ervaar.

Sy sê hulle gaan egter nie die fonteine en watervalle weer kan herstel soos dit vroeër jare gelyk het nie, aangesien dit ʼn ingewikkelde stelsel is wat baie geld sal kos om te herstel en baie werk verg om te onderhou. “Destyds is die treinpassasiers met die rustigheid van lopende fonteine en watervalle begroet, maar dit sal net nie in die lange duur volhoubaar wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Magda ·

Wat n mooi gebaar, presies 30jaar wat Di onbevoegde regering in beheer is, net nog n bewys van hoe breinloos hulle rerig is. Dankie aan almal wat deel is daarvan om die tuine en wandel paadjies weer te herstel. Waardeer opreg.

My siening ·

Elke stasie in die land het so verval onder ANC, wag maar nes dit bekend word kom die hele oos kaap hier piekniek hou met bus vragte ANC kaders.
Dankie Grootbrak Mense wat dit so mooi gemaak het. Grootbrak 10/10, ANC 0/10!

Pieter ·

Voorwaar ‘n pragtige onderneming wat ondersteun moet word. Jammer dat alles wat deugsaam is onder die kriminele ANC ten gronde gaan, maar ‘n boom ken jy aan sy vrugte. Deugsame goed bou die beeld van die kriminele ANC nie uit nie, net ste-el, verk-rag en doo-dslag. Die spanfoto wys dat transformasie nie van toepassing is by vrywillige, deugsame aktiwiteite nie.

Voorspoed en seën vir julle.

Corne123 ·

Ja wat het julle verwag dit is vir die ANC gehee kan niks instand hou nie ondhou SA is besig om te val vinniger as wat ins besef

Harley Davidson ·

Dit is die rede hoekom die weskaap moet afstig en ‘n onafhanklike staat word.

Harley Davidson ·

Wat ‘n goeie gebaar ek onthou hoe mooi was die trein stasie tuine op die platteland en vandag is niks oor.

Kokerboom ·

Nogal al ‘n homogene gemeenskap!!!
Baie sterkte en dankie vir inisiatief

Rooikopheks ·

Pragtig, dankie vir sulke alles wat julle doen. Voorwaar ń voorbeeld vir ons.

Nico ·

Net jammer dat van die mooi stasie deur vandalisme vernietig is, ek is besit van Glecoe stasie se horlosie wat deel wat van stasie peron.

Mariana ·

Ek kan net sê welgedaan en baie dankie. As inwoners van elke dorp in die land self sulke take verrig in plaas van staatmaak op die regering en munisipaliteite sal ons land beter lyk en funksioneer. Maar ja nie almal is bereid tot so iets nie. Party wil net hê en hê en hê.

Niklaas ·

Sal ons sulke dinge beleef in Gauteng en ander provinsies ? Dit is te betwyfel.

Marcello ·

Wat ‘n hartseer storie dat alles so agteruit gegaan het, ons kinders en kleinkinders sal nooit dit kan beleef om ‘n rit met ‘n trein te ry, en op ‘ n mooi stasie aantekom nie, As kind was dit ‘n avontuur om trein te ry. Selfs toe ek begin werk het, het ek elke dag vanaf Silverton in Pretoria na Jhb. gery om te gaan werk, So veilig, elke aand het ek eers om 19h00 by die huis gekom, en was nie eendag (aand) bang nie. Dankie aan die span van Grootbrakrivier vir jul harde werk.

Albertus Christiaan ·

Net jammer al die treinstasies op die rand, van Springs tot on Randfontein kan ook nie so ń herlweing ondergaan nie. Dit is ook in ń haglike toestsand

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.