Foto’s: Twee dood in Germiston-vliegongeluk

Vliegtuigongeluk Foto: @emergenza24 op Twitter

Nog foto’s volg onderaan die berig. ‘n Man en ‘n vrou is Vrydag dood nadat ‘n ligte vliegtuig naby Germiston, oos van Johannesburg, neergestort het.

“Dit wil voorkom of die vliegtuig op sy skroef te lande gekom het,” het William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni-nooddienste, gesê. “Daar was vier persone aan boord. Twee is op die toneel dood en twee is beseer.” Die twee beseerdes is in ‘n kritieke toestand na ‘n hospitaal geneem.

“Die vliegtuig, wat na Kriel in Mpumalanga onderweg was, het Vrydag net voor 13:00 naby Barlowweg neergestort,” het Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare911, gesê.

Die insittendes was in die wrak vasgekeer. Konstruksiewerkers naby aan die toneel het hulle uit die wrak gehaal.

Die oorledenes se name is nog nie bekend gemaak nie, en dit is nog nie duidelik of hul naasbestaandes al in kennis gestel is nie.

Beamptes van die burgerlike lugvaartowerheid sal die oorsaak van die ongeluk ondersoek.

Foto deur die gebruiker @nelius_rademan op Twitter gelaai

Foto: Christa van der Walt, EWN

Foto deur die gebruiker @emergenza24 op Twitter gelaai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.