[Foto’s] Twee sinkgate in Noordwes

Die sinkgat langs die R502 naby Stilfontein in Noordwes (Foto's verskaf aan Maroela Media) Foto: Karen du Toit

Die sinkgat langs die R502 naby Stilfontein in Noordwes (Foto’s verskaf aan Maroela Media) Foto: Karen du Toit

ʼn Groot sinkgat het naby die R502 tussen Orkney en Potchefstroom in Noordwes ingesak. Dit volg ná ʼn sinkgat vroeër op die N12 tussen Klerksdorp en Potchefstroom ontstaan het.

Vusi Mona, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), het Vrydag in ʼn verklaring gesê ʼn gedeelte van die N12 word na verwagting vir tussen ses tot agt maande gesluit weens ʼn sinkgat in die gebied.

“ʼn Geotegniese ondersoek word gedoen om die dolomietstabiliteit in die gebied te toets asook verwante risiko’s in die baan in ʼn oostelike rigting na Stilfontein,” het hy gesê. “Die baan in ʼn westelike rigting sal na verwagting tussen ses tot agt maande gesluit word terwyl pype, elektriese en veseldrade herlei word. Geen herstelwerk kan begin voor dié dienste nie herlei is nie.”

Volgens Mona is dit moontlik dat die verkeer wel toegelaat kan word hangende die uitslag van die ondersoek met oppervlak-kruisings en ʼn breër skouer binne die N12-reserwe.

“Dié mediaan-kruisings sal waarskynlik tussen middel Februarie en vroeg Maart ingestel word, op die voorwaarde dat konvensionele konstruksiemetodes voldoende sal wees en dat geen spesiale geotegniese voorsorgmaatreëls vereis word nie.”

Mona het bygevoeg Sanral bedank padgebruikers vir hul begrip en doen ʼn beroep op motoriste om geduldig te wees terwyl dié tydelike maatreël in plek gestel word. “Ons kan julle verseker dat ons alles in ons vermoë doen om die proses so vinnig as moontlik af te handel en om die pad so vinnig as moontlik weer oop te maak.”

Alhoewel persone wat op dolomiet bly nie nodig is om angstig te wees nie, is dit altyd nodig om bedag te wees. “Water moet nie lank poel nie, lekkende pype moet dadelik reggemaak word, grondwater moet nie onbeheersd onttrek word nie en tekens van insakking moet dadelik ondersoek word.”

Mona het gesê die skuif van die dienste is buite Sanral se beheer, maar die situasie word bestuur in samewerking met die Dr Kenneth Kaunda-distriksmunisipaliteit.

Intussen het nog ʼn sinkgat ingeval op privaat grond langs die R502 tussen Orkney en Potchefstroom. Karen du Toit, ʼn leser van Maroela Media het gesê die sinkgat, naby Stilfontein, is baie naby aan die Buffelsmyn-ingang. Volgens haar lyk dit boonop of die gat verder begin insak.

Sy het aan Maroela Media gesê die pad word veral gebruik deur personeellede van die nabygeleë myne. Die stadsraad is glo besig om ʼn nuwe pad beskikbaar te maak vir dié werkers.

Maetu Kgaile, woordvoerder van die Matlosana-munisipaliteit, maan die publiek om uiters versigtig te wees, aangesien hulle verwag dat dié sinkgat moontlik groter gaan word.

Volgens berigte is dié sinkgat ongeveer 70 m by 30 m groot.

Maroela Media het vroeër ook berig oor ‘n groot sinkgat wat op ‘n plaas in die Noord-Kaap ingeval het. Lees meer.

Du Toit het Saterdagoggend die volgende foto’s geneem vanaf ‘n brug op die R502. Sy het die foto’s aan Maroela Media verskaf:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

El ·

Laat my dink aan my kinderjare in die vroeë sewentigs. Bank en Blaau Bank Westonaria en Venterspost. Ons het om Goudryk gewoon. Ek is vandag nog bang vir sinkgatte. Onthou Japie, die mynkaptein wat verdwyn het in die sinkgat en die families in Blyvooruitsig.

Barend ·

was dit nie die myn wat Zuma se seun help bestuur het nie?

Twyfel ·

Ek twyfel of dit waar is. Vir my lyk dit eerder na grondgrype wat veroorsaak dat die grond dalk gesteel word . . .

El ·

Laat my dink aan my kinder jare met all die sink gate in Blyvoor, Bloubank, Goudrijk, Venterspost en Westonaria. As kind het ek altyd nagmerries gehad van die sinkgate

John ·

Binnekort sal zama-zamas toesak in die hoop dat die natuurlike skagte ietsie blinks sal oplewer… en dat moet ons mense hul lewens opoffer om buitelandse grypers te red.

Mossie ·

Wie gaan die skuld kry die gevreesde woord of rasisme of wir al wat ons weet apartheid

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.