Foto’s: Twee sinkgate vorm ná swaar reën

Die sinkgat op die M24. Foto: Via @tWeatherSA/Twitter

Twee sinkgate het sedert Donderdagmiddag te midde van swaar reënval in Centurion gevorm; een onder ʼn gebou en een in ʼn pad waarin ʼn voertuig beland het.

Die jongste sinkgat het deur die loop van Donderdagaand op die M24 (Stefanus Schoeman)-pad tussen die R55 en Valhalla naby Erasmia ingeval.

“ʼn Weermaglid, in sy 30’s, het op die pad gery. Hy het gesê dit was donker en hy het nie die gat gesien nie en met sy motor in die gat beland,” het die DA-raadslid van die wyk, Ina Strijdom, Vrydag aan Maroela Media gesê.

Strijdom het gesê die pad gaan vir ʼn onbepaalde tydperk vir verkeer gesluit wees totdat die sinkgat heeltemal herstel is. Kenners, senior amptenare en ʼn geoloog is op die toneel om die omvang van die probleem en volgende stappe vas te stel.

“Die sinkgat strek oor die hele breedte van die pad. Dit is nog moeilik om presies te bepaal hoe diep dit is, aangesien die motor nog daarin is en dit ook ʼn gedeelte van die sinkgat versper. ʼn Insleepdiens is tans op die toneel en poog om die man se voertuig uit te kry.”

Volgens Strijdom is die bestuurder van die voertuig ongedeerd. “Hy kon self uit sy motor klim en hulp ontbied.”

Strijdom het motoriste aangeraai om van Wierdaweg en Hendrik Potgieterweg gebruik te maak terwyl die M24 gesluit is. “Die pad is gelukkig nie ʼn hoofroete wat baie verkeer dra nie,” het sy gesê.

Die ander sinkgat het Donderdagmiddag omstreeks 14:00 in die parkeergebied en deels onder ʼn gebou in Krugerlaan in Lyttelton Manor ingesink.

Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, het gesê geen beserings is aangemeld nie en mense is betyds uit die gebou ontruim.

“Weens die volgehoue reënval raak die gat net al hoe groter. Kenners en amptenare van die metro is op die toneel om die omvang en oorsaak van die sinkgat vas te stel en die gebied is afgesper terwyl die ondersoek voortduur,” het hy gesê.

Intussen het die aanhoudende reënval in Gauteng Donderdag en Vrydag kitsvloede op plekke in Johannesburg en Pretoria veroorsaak. Motoriste is gewaarsku om versigtig te wees rondom laagliggende brûe wat oorstroom het.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku swaar reënval sal na verwagting vandag voortduur in Gauteng. Die weerdiens het gesê ʼn hoëdrukstelsel wat op ʼn kouefront volg, veroorsaak bewolkte en koue weerstoestande met oormatige vogtigheid wat kan lei tot wydverspreide reënval en donderstorms. Die bewolkte weer behoort teen Sondag op te klaar, maar dit sal koel bly. Dagtemperature sal teen volgende week geleidelik begin styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Eish ·

Mens swaai uit vir potholes, maar neeee ‘n sinkgat sien jy nie.

Johann ·

Lees die hele artikel. Dit was donker en daar is nie straatligte op daardie gedeelte nie. Pasop jy maar vir die blinde sambok!

snoefie ·

ag johann. ander nuusblaaie berig díé bestuurder het verkeersbeamptes se opsrag om stil te hou verontagsaam.

Ina Strijdom ·

Dit was 04:25 in die oggend, donker en het erg gereën. Toe die beampte vir hom flikker was hy reeds by die sinkgat en het hy daarin beland. Geen mens gaan jou lewe waag om doelbewus in ‘n sinkgat in te ry nie. Ons kan nie oordeel as ons nie self in sy situasie was nie.

HPV ·

Hier by ons in en om Bloemfontein is sulke gate ‘n bekende gesig, ons noem dit sommer slaggate of “potholes”! Gelukkig is die meeste met rommel toegewaai dat dit darem nie te sigbaar of diep is nie.

tamboti ·

O GAATS, of in Engels;” Oh Holes!
Hoop daar vorm een onder JZ

Ina Strijdom ·

Dit was 04:25 in die oggend, donker en het erg gereën. Toe die beampte vir hom flikker was hy reeds by die sinkgat en het hy daarin beland. Geen mens gaan jou lewe waag om doelbewus in ‘n sinkgat in te ry nie. Ons kan nie oordeel as ons nie self in sy situasie was nie.

Gerhardt O ·

‘n Mens moet mooi gaan seker maak dat jou versekering sinkgate dek. Ek weet dat ek ‘n hele paar keer moes aandring dat dit spesifiek by ons gebou versekering vermeld word. Die woorde soos “grondsakking or grondverskuiwing” is myns insiens nie voldoende om hierdie tipe sinkgate te dek nie.

Zettie ·

Ek huil my dood as ek my kar so sien. Dankie tog niemand het seergekry nie………

sandra ·

lyttleton en omstreke is mos bekend vir sinkgate, maar nee, die mense wil nie hoor nie, bou sal hulle bou… hoe groter en duurder, hoe beter. nou’s dit hoe dieper, hoe duurder.

Haan ·

Dis dolomiet wêreld daai. Ook heelwat grotte. Denel is op een van die grotte gebou. Die Mercedes garage langs die N1 is ook op n grot gebou. Bron:SEC (speleological exploration club)

nou toe nou ·

so bou nog n paar ondergrondse trein tonnels vir hoë spoed treine. die ou enginieurs het mos nie geweet waarvan hulle gepraat het nie

Elna Kupke ·

Ons bouer het my blameer dat daar ‘n spook op ons plek is. Elke keer as hy wil messel reën dit, Is hy dalk die spook? Dan moet hy permanent kom messel….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.