[Foto’s] Twee sterf, drie beseer in kettingbotsing

Foto van die toneel. Foto: Rescue Care

Foto van die toneel. Foto: Rescue Care

Twee mense is Dinsdag in ʼn kettingbotsing, waarby twee swaarvoertuie en ʼn bakkie betrokke was, op die M7 in Durban dood.

Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, het gesê die botsing het omstreeks 11:20 op die M7-Oos voor Wakesleighweg plaasgevind.

“Een van die swaarvoertuie het na bewering in die ver linkerbaan onklaar geraak toe ʼn ander swaarvoertuig daarin vasgery het. ʼn Bakkie waarin twee mense was, is ook in die botsing beskadig,” het Jamieson gesê.

Twee mans was vermoedelik besig om aan die stukkende vragmotor te werk toe die ongeluk plaasgevind het.

“Die twee mans is onder die vragmotor se wrak aangetref en was vasgekeer. Een was reeds dood en die ander een het kritieke beserings opgedoen.”

Paramedici het onverpoosd gewerk om die man wat kritiek beseer is te stabiliseer nadat hy bevry is. Hy is egter kort ná sy aankoms by ʼn nabygeleë hospitaal dood.

Die twee insittendes in die bakkie het matige beserings opgedoen. Die bestuurder van die ander vragmotor is gering beseer. Al drie is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Owerhede was op die toneel om die nodige ondersoeke van stapel te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.