Foto’s: Tweede asem vir Mostert se Meul ná brand

Herstelwerk aan die geskiedkundige Mostert se Meul in Kaapstad vorder fluks. (Foto: Andy Selfe)

ʼn Dag nadat ʼn verwoestende brand die geskiedkundige Mostert se Meul in die Duiwelspiek‑omgewing in Kaapstad in puin gelê het, het liefhebbers van die ou struktuur reeds geweet dit sal weer uit die as herrys.

En restourasiewerk aan die meul vorder fluks.

Die meul was die laaste oorblywende werkende windmeul in Afrika (en een van net drie in die Suidelike Halfrond) en is meer as 200 jaar oud. Nadat ʼn vonk in April verlede jaar tydens die groot brande in die Kaap egter oor die M3 gespring het, het die meul se grasdak aan die brand geraak. Al die houtmasjinerie is verwoes en slegs die klipmesseltoring, die seile, die meulstene en die oorspronklike ysterware, wat uit die puin herwin is, het oorgebly.

Die mure en fondamente dateer waarskynlik terug tot die 1700’s en daar moes ook vinnig gespring word om die mure, gemaak van modderbakstene, te red voor dit in die reën verwoes word. Vandale het boonop enkele dae na die brand op die perseel toegesak en koperpype gesteel en kabels opgegrawe en weggedra.

Plaaslike skrynwerkers doen verstommende werk om die houtelemente te herbou. (Foto: Andy Selfe)

Kapt. John Hammer, voorsitter van FOMM, is al 25 jaar lank by die meul betrokke. Hy is een van net ʼn handvol mense wat steeds weet hoe om dit te bedryf.

Hy het drie dae ná die brand steeds gehuil oor die verwoesting, onthou Hammer, maar hy het ook geglo dat daar beslis nie net ʼn hoop verbrande rommel gaan agterbly nie.

Hy het destyds self deur die puin gesif om te red wat te redde is voor boewe die laaste stukkies wegdra.

“Ons is besig om iets besonder uniek van uitwissing te red,” sê Hammer oor die grootse poging van vrywilligers om die ou meul weer tot sy volle glorie te herstel. “Ons doen dit vir die liefde van die meul; omdat dit só spesiaal is.”

Dit is ‘n reusetaak wat uit liefde gedoen word. (Foto: Andy Selfe)

Die departement van openbare werke het in Maart vanjaar toestemming gegee dat voortgegaan mag word met die volledige restourasie van die meule. FOMM het vroeër reeds begin met die vervaardiging van die houtmasjinerie in die meule, onder andere deure, vensters, ratte, kapraam,  hortjies, die twee houtvloere en hul steunbalke, sowel as die toegangslere.

Uit die hout van buite wat nie heeltemal weggebrand het nie, is sekere elemente van die nuwe masjinerie gemaak, soos die regop dryfas. Die oorspronklike is uit ‘n skip se mas gemaak, die nuwe is nou getimmer uit die ou stertpaal, wat gebruik word om die kap in die oog van die wind te draai.

Al dié elemente benodig egter spesifieke erfenisgoedkeuring.

Die houtmasjinerie benodig dit ook, maar benewens die vriende van die meul, weet niemand in Suid-Afrika presies hoe die oorspronklike elemente gelyk het nie – en daarom het hulle intussen voortgegaan om die komponente self te maak.

Kort voor die brand het die Universiteit van Kaapstad bloot toevallig ʼn 3D-skandering van die hele meul geneem. Dít, tesame met die foto’s wat FOMM oor die jare geneem het, word nou gebruik om elke element noukeurig te herbou.

ʼn Ingewikkelde besigheid

Dekwerk aan die grasdak sal na verwagting binnekort begin. (Foto: Andy Selfe)

Hammer sê hulle het aanvanklik na Nederlandse kenners gekyk hiervoor. Dit sou egter onbekostigbaar wees en sedertdien het hulle die beste plaaslike vakmanne opgespoor om die verskillende komponente te help vervaardig.

So het Mostert se Meul na die brand verlede jaar gelyk. Dit het egter nie lank in sak en as gestaan nie. (Foto: Twitter/@vickystarkinc)

Dit sluit in skrynwerkers wat die windas – ʼn allemintige sewe meter lank – moet reg timmer.

Die hele dak moet boonop roteer, “ʼn ingewikkelde besigheid”, en tot dusver is 16 verskillende soorte hout, almal met verskillende kwaliteite, in die restourasieproses gebruik. Die houtwerk vir die grasdak is reeds afgehandel en teen volgende week behoort daar met die dekwerk begin te word. Dit sal ook gedoen word op die manier waarop dit twee eeue gelede gedoen is.

Daarna sal die binnekant van die meul droog wees en kan die vloere en trappies geïnstalleer word. Die ou meulstene het neergestort toe die gebou in ligte laaie opgegaan het, maar is ook uit die as gered. Dit sal binnekort weer in plek wees.

So het die binnekant van die meul gelyk. Dit word weer presies so herbou. (Grafika: Friends of Mostert’s Mill)

“Hierdie is ʼn lewende stuk geskiedenis,” sê Hammer. “ʼn 200 jaar oue stuk masjinerie. Alles in Mostert se Meul is van hout en dit word aanmekaar gehou met giet- en gesmede yster.”

Die meul is gebruik om koring in meel te maal. Die koring is geoes, in ʼn skuur gebêre en dan, soos nodig, gemaal om brood vir die plaasmense te bak. Op ʼn lekker winderige dag kan sowat 10 kg meel binne ʼn paar uur gemaal word. Dit is twee eeue gelede só gedoen en binnekort sal die wieke van die meul draai om dit weer te doen.

Die restourasieproses sal na verwagting nog sowat ses maande duur en Hammer sê hulle hoop om dit in April volgende jaar, twee jaar na die brand, weer aan besoekers oop te stel. Hulle hoop ook om dit as ʼn sentrum vir vaardigheidsoordrag te gebruik, waar tradisionele vaardighede soos malery, bak en skrynwerk aangebied kan word.

Die koste van die restourasieproses gaan na raming eindelik net meer as R3 miljoen beloop. FOMM het self sowat R500 000 ingesamel en danksy ruim bydraes van die Rupert-familie kan die res van die herstelwerk ook behoorlik gedoen word.

“Uiteindelik gaan dit alles trots Suid-Afrikaans wees,” sê Hammer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.