[Foto’s] Harte bloei vir uitgeteerde renosters

Flippie en Peanut. Foto: Alison Fitzgerald

Flippie en Peanut. Foto: Alison Fitzgerald

Flippie en Peanut, twee renosterbulle van ʼn droogtegeteisterde reservaat in Mpumalanga, en talle ander diere is van ʼn gewisse hongerdood gered nadat vrywilligers van regoor die land ingegryp het om voer te verskaf.

Flippie (6) en Peanut (7) van die Lionspruit-wildreservaat in Marlothpark buite Malelane, het talle mense se harte geraak toe foto’s van dié uitgeteerde diere op sosiale media gedeel is met ʼn beroep om hulp.

Alison Fitzgerald, ʼn trustee van die niewinsgewende organisasie Marloth Wildlife Fund, besoek die reservaat gereeld om ʼn wakende oog oor die toestand van die reservaat en die diere te hou, aangesien die organisasie nie tevrede is met hoe die Nkomazi-munisipaliteit die reservaat bestuur nie.

Sy het Woensdag aan Maroela Media gesê sy het aan die einde van Julie teruggekeer van vakansie en oudergewoonte weer die reservaat besoek. Dit is toe dat sy op Flippie en Peanut afkom, verhongerd en swak.

Die munisipaliteit het glo die droogte geblameer en gesê hulle is te besig met verkiesingsreëlings en kan nie na die diere omsien nie.

Ná die pleidooi het omliggende inwoners en verskeie organisasies gereageer deur skenkings te maak en voer aan te ry. Die organisasie het toestemming by die provinsie se departement van natuurbewaring verkry om in te gryp en om die diere kos te gee.

Een instansie wat op die pleidooi gereageer het, Boere in Nood, is ook ʼn niewinsgewende organisasie.

Julene Stevens Louw, administrateur van Boere in Nood, saam met drie vriendinne, Santie Roux, Carina Swartz en Chantal Struwig, wat ook verbonde aan dié organisasie is, het kragte gesnoer om die renosters en ander diere te help.

“Ons het onder die groep se lede ʼn beroep gedoen om hulp en teen Vrydag het dinge in plek begin val. Ons het genoeg skenkings gekry om drie vragmotors vol lusern en ʼn bakkie met proteïenlek daarheen te neem,” het Louw aan Maroela Media gesê.

Lusern is van George in die Wes-Kaap, Wakkerstroom in Mpumalanga en die Delmas-omgewing in Gauteng aangery en het Maandagaand in ʼn konvooi by die reservaat aangekom. Die 130 bale is met ope arms verwelkom. Vrywilligers wat na die diere omsien het selfs in trane uitgebars vir die ruim skenking. Die diere het reeds Dinsdag aan die lusern begin smul.

Fitzgerald het gesê die twee bulle se toestand het reeds verbeter. Hoewel hulle nog uitgeteer is, het hulle gedrag aansienlik verbeter en is hulle meer aktief en in staat om hul kos te beskerm. Hulle moes vroeër weens hul swak toestand gereeld afstand doen van die min kos wat daar is, veral aan ʼn oorbevolking van buffels.

“Ons sukkel al ʼn geruime tyd om terugvoer van die munisipaliteit te kry. Talle skrywes bly onbeantwoord en die munisipale bestuurder reageer nooit op enige navrae nie,” het Fitzgerald gesê.

“Ons het nou amptelike toestemming om na die diere om te sien en sal aanhou sorg vir hulle so lank as wat ons kan. ʼn Private veearts behoort Flippie en Peanut binnekort behoorlik te ondersoek om hul toestand te bepaal en te kyk watter behandeling hulle kort. Tans het ons genoeg voer vir nou, maar ons weet nie hoe lank dit gaan hou nie aangesien die ander diere ook daarvan eet. Ons bly afhanklik van skenkings om na die diere se welstand om te sien.”

Fitzgerald het almal bedank vir die groot reaksie op hul pleidooi en waardering uitgespreek vir elke skenking.

Louw het gesê sedert Boere in Nood in November verlede jaar van stapel gestuur is, is meer as 1 200 boere landswyd gehelp met droogtebystand. “Ons probeer help daar waar die nood die grootste is. As daar weer nood by die reservaat is sal ons kyk wat ons kan doen, maar daar is nog baie boere wat hulp ook nodig het.”

Maroela Media het navraag by die munisipaliteit gedoen en wag nog vir terugvoer.

Klik hier om Marloth Wildlife Fund te ondersteun.

Klik hier om Boere in Nood te ondersteun.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Justa ·

Almal moet die ” Nkomazi Local Municipality facebook page” oorval met klagtes rakende hierdie situasie.

Hector Jooste ·

Daardie voer sal mooi opgepas moet word anders gaan dit nog deur daardie ellendige munisipale amptenare gesteel word.

Hendrik ·

My argument is dis by Marlothpark, daar bly ryk mense ek laat my nie vertel hulle hey dit nie geweet diere loop tussen hulle huise rond, ek noem dit “ignorance”

Chris ·

Hendrik, daar bly nie net ryk mense in Marloth Park nie , dis ook nie in Marloth Park self maar in Lionspruit, waar daar nie huise is nie, so die renosters loop nie tussen die huise nie.

Santie Roux ·

Dit gaan nie oor geld of verwyte nie. Dit gaan oor ons vergeet het hoe om op ons kniee te gaan en eerder net dankie te se. Die mense by Marloth Park is die awesomste mense wat ek in baie jare ontmoet het. Onthou asb dat geld nie die werk van God kan oorvat nie. Marloth kort reen en net die Here kan dit gee.

Theresa B ·

Amazing om te sien wie ontferm hulle oor die arme diere. Maar gewoonlik is hierdie mense die rassiste en slegtes. Die Munisipaliteit het GEEN prioriteite nie behalwe hulle eie. So wil hulle altyd alles hê en besit maar kan niks omsien en versorg nie. Gee my net krag……………………..!!!!!!

TM ·

Uiters swak. Om nie eens vir ‘n uiters bedreigte spesie en die ander diere om te gee nie walg my. Vra betyds hulp as dinge nie goed gaan nie. Baie baie baie dankie aan almal wat hulp gegee het.

Anti DA ·

Name and shame die regerende party van die munisipaliteit wat so besig was met verkiesing reëlings .

Daan Erasmus ·

Anti DA of is jy n DA anti. Ek sukkel om die verskil te sien. En hoe gaan ons dit nou doen.

Daan Erasmus ·

Het iemand al n klag by die DBV gelê. Dat die skuldiges vervolg kan word. Netso moet daar in die Kruger Wildtuin klagte by die DBV gelê word oor diere wat gelos word om te vrek. En dan trek hul skouers op en sê dit is die droogte. Die mense wat die diere inhok moet n plan maak.

Wat-ek-lees ·

En die mislike palityt sê dankie?? Al wat hulle kan doen is straatname verander en bakhand staan vir die maand se geld wat hulle kry maar nie verdien.

Moeks ·

Net jammer vir die renoster koei en haar kalf wat reeds gevrek het. Dit is ‘n jammerte. Bly die ander diere kan gehelp word. Aan elke persoon wat help en skenkings gee, julle is engele. Dankie.

Andre ·

Baie dankie vir almal wat help! Mag God julle almal ryklik seën!

Wie ·

Punt van die storie…renosters is aan die minderheid…maar nee…daar word getwis oor verkiesings??? Staan maar bakhand by my kar venster …ek sal liewer ń renoster voed dankie?

Siestog ·

Baie dankie aan een en almal wat bygedra het. Ek dink Flippie en Peanut en die ander diere weet nie wat hulle getref het nie. Dit is verskriklik om die diere so uitgeteer te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.