Foto’s: Uitsonderlike blou diamant by Cullinan gevind

Foto’s volg onderaan die berig.

Die 122,25 karaat blou diamant wat in Junie in die Cullinan-myn gevind is. Foto: Petra

Die 122,25 karaat blou diamant wat in Junie in die Cullinan-myn gevind is. Foto: Petra

‘n Blou diamant van 122,52 karaat is by die Petra-diamantmynmaatskappy se Cullinan-diamantmyn naby Pretoria gevind.

“Die seldsaamheid van ‘n blou diamant van dié omvang stel dit apart as ‘n baie belangrike vonds,” het Petra in ‘n verklaring gesê.

“Die ongelooflike seldsaamheid van blou diamante, sowel as die ryk geskiedenis wat verband hou met baie van die meer belangrike stene, het dit een van die wêreld se mees waardevolle en versamelbaarste items gemaak,” het die maatskappy gesê.

‘n Blou diamant van 29,6 karaat is in Januarie vanjaar by die Cullinan-diamant gevind.

Die kleur van blou diamante word veroorsaak deur klein hoeveelhede van boron wat vasgekeer word tydens die vormingsproses van die diamant.

Petra het verlede jaar ‘n blou diamant van 25,5 karaat vir bykans R180 miljoen verkoop. Die afslaershuis Christie’s het in Mei ‘n 13,22 karaat peervormige diamant, die Winston Blue, vir R256,5 miljoen verkoop. Dit is die grootste vlekkelose helderblou diamant wat nog gevind is.

Die Cullinan-myn is die wêreld se belangrikste bron van blou diamante, volgens Petra. Die maatskappy het die myn in 2008 gekoop. Die myn is bekend vir die 3106,75 karaat Cullinan-diamant wat in 1905 daar gevind is. Dit is in verskillende stene geslyp en in Brittanje se kroonjuwele geset.

Johan Dippenaar, uitvoerende hoof van Petra, met die 122,25 karaat blou diamant wat in Junie gevind is. Foto’s met vergunning van die Petra-myndiamantmynmaatskappy.

Johan Dippenaar, uitvoerende hoof van Petra, met die 29,6 karaat blou diamant wat in Januarie in die myn gevind is. Foto’s met vergunning van die Petra-myndiamantmynmaatskappy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.