Foto’s: Uniforms en helder kleure om 9-jarige ‘vegter’ te groet

Gidion du Toit. (Foto: NB Photography)

Mense geklee in helder kleure, denims en plakkies het Saterdagoggend by die NG gemeente Moreletapark in Pretoria byeengekom om Gidion du Toit, die negejarige anemielyer wat op 27 November vanjaar oorlede is, se lewe te vier.

Elkeen het, op versoek van Gidion se ma, Tuschka Reynders, ʼn vrolik toegedraaide geskenk in plaas van blomme saamgebring wat aan minderbevoorregte kinders geskenk sal word.

Talle van Gidion se “helde” – brandweermanne en -vroue, paramedici, polisiebeamptes, vlieëniers en ander in uniform – het ook die geleentheid bygewoon, met ʼn brandweerwa en ander noodvoertuie wat by die kerk se ingang gewaak het.

Tuschka Reynders en haar man, Kobus, by die diens wat gehou is om Gidion du Toit se lewe te vier. Foto: Maroela Media

“Dankie vir almal wat hier is om Gidion se lewe saam met ons te vier,” het Reynders in haar bedanking gesê. “Dankie dat julle deel van ons en Gidion se lewe is en was. Dankie dat julle dit vir ons moontlik maak om elke oggend wakker te word en stadig maar seker nader aan aanvaarding te beweeg, en met meer vreugde en minder pyn terug te kyk na ons herinneringe aan Gidion.”

Maar ondanks die vrolike klere en geskenkpakkies het trane geloop terwyl foto’s van oomblikke uit Gidion se lewe op die skerms geflits het: teen sy ma se bors as baba; op die strand; besig om te braai; in die swembad; met hasie-ore op sy kop – altyd met ʼn groot glimlag.

En later, minder gelukkige oomblikke in ʼn hospitaalbed, maar altyd met sy kenmerkende duimpie in die lug.

Ds Janlu Kuyler, ʼn leraar van die NG Gemeente Moreletapark. Foto: Maroela Media

Ds Janlu Kuyler, ʼn leraar van die NG gemeente Moreletapark, het ʼn boodskap van troos gebring uit Psalm 91:11-12, ʼn teks wat met Gidion se geboorte al deur ʼn verpleegster in die hospitaal vir hom gegee is: “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ʼn klip sal stamp nie.”

Kuyler het Gidion as ʼn dapper vegter teen sy siekte vergelyk met verskeie helde in die Skrif en húl stryd. “Hy was ʼn vegter, ondanks talle ontberings,” het hy gesê. “Gidion se nalatenskap is dat hy, net soos helde in die Woord, nooit ophou veg het nie. Kom ons bring hulde aan Gidion se lewe en getuienis met dié kreet uit Gideon van die Ou Testament se verhaal: ‘Vir die Here, en vir Gidion!’”

Reynders, ondersteun deur haar man, Kobus, het ná dié boodskap Gidion se lewensverhaal vertel – ʼn verhaal gekenmerk deur talle krisisse en terugslae, maar veral deur talle wonderwerke.

Talle mans en vroue in uniform het ʼn erewag gevorm terwyl Gidion se ouers, familie en vriende die kerk verlaat het. Foto: Maroela Media

Nadat dit aanvanklik gelyk het of Gidion, wat sedert geboorte teen die seldsame genetiese siekte Fanconi-anemie geveg het, se beenmurgoorplanting in Oktober vanjaar suksesvol was, het hy in November verskeie terugslae beleef.

“Regdeur die afgelope tyd se mediese prosedures en trauma in die hospitaal het Gidion net een keer gesê: ‘Mamma, weet hulle ek is ʼn kind?’ Want ʼn kind is nie veronderstel om hierdeur te gaan nie,” het Reynders vertel.

Op Sondag 25 November het Gidion se hart gaan staan, en hy was vir agt minute sonder suurstof. Mediese personeel het sy hart aan die klop gekry, maar dit het weer gaan staan, en hy was nog vier minute sonder suurstof voor sy hart weer begin klop het.

“Ek glo Gidion was in dié tyd sonder suurstof op Jesus se skoot, en dat hy teruggestuur is om ons te kom groet.”

Tuschka Reynders word omhels deur nooddienspersoneel buite die kerk. Foto: Maroela Media

Gidion is twee dae later in die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad oorlede.

“Gidion was ʼn ligfakkel wat vir my, en vir soveel ander mense, intense lig gebring het,” het sy ma gesê. “Maar die hartseer van ʼn ligfakkel is dat dit nie lank hou voor dit uitbrand nie. Gidion se intense lig het ná minder as tien jaar uitgebrand.”

Talle mans en vroue in uniform het ʼn erewag gevorm terwyl Gidion se ouers, familie en vriende die kerk verlaat het. Só het hulle hulde gebring aan die dapper klein vegtertjie wat eendag ʼn brandweerman wou word.

Lees alle vorige artikels oor Gidion du Toit op Maroela Media hier.

Chris en Yolandé von Wielligh sing ‘n lied wat Yolandé spesiaal vir Gidion geskryf het:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johann cb ·

Sterkte aan sy ouers, vriende en naasbestaandes. Ek het onlangs my moeder aan die dood afgestaan, en begryp hoe julle voel.

Rikku ·

Rus in vrede Gidion. Jy was ‘n Dapper Vegter. Mag Jesus jou Ouers styf vashou in hierdie hartseer tyd.

Mammahart ·

Ons sal jou dapper glimlag altyd onthou, Gideon. Style drukkies vir jou mamma en ander geliefdes. ❤️

Ann ·

Baie sterkte … my trane loop so ek kan nie eers die berig klaar lees nie …

Susan meintjed ·

Wow geen beter predikant sou die diens beter kon doen nie..Janlu dierbare mens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.