Foto’s: Vakansieoord in die slag toe veldbrand versprei

Verkeer moes by die Virginia-kruising op die N1 herlei word. (Foto: Verskaf)

Die Aldam‑vakansieoord en ‑natuurreservaat in die Vrystaat is Saterdag ontruim en verskeie wooneenhede erg beskadig, nadat ʼn veldbrand in die sentrale dele van die Vrystaat hierheen versprei het.

Volgens Boet Wessels, ʼn boer in die omgewing, het die brand Vrydagmiddag langs ʼn grondpad in die omgewing van Virginia ontstaan en vinnig verder versprei. “Boere het van heinde en verre gekom om die brand te help blus. Van so ver as Kroonstad, Steynsrus en Wesselsbron,” sê Wessels.

Danksy dié spanpoging is die brand grotendeels Vrydagnag in bedwang gebring, maar het weens erge winde Saterdag weer opgevlam, oor die N1 gespring en na die reservaat versprei. Teen Sondagoggend was die brand grotendeels geblus.

Volgens ʼn plasing op die Facebookblad Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa, is groot dele van die oord, asook chalets, in die brand verwoes. ʼn Brandbestryder en nog ʼn persoon is glo beseer en na hospitale in Welkom en Kroonstad gehaas, maar Wessels sê hy dra nie kennis van iemand wat ernstige brandwonde opgedoen het nie.

Jan de Villiers, bestuurder by die vereniging vir brandbeskerming in die Vrystaat, sê die vakansieoord is Saterdag ontruim en 13 000 hektaar se plaasgrond het gebrand. Verkeer moes ook van die N1-kruising na Virginia herlei word.

Wessels sê die presiese omvang van die skade moet nog bepaal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

HIERDIE IS BRANDSTIGTING!! Daar is deesdae net té gereeld brande.

Chris dupreez

Dit is sekerlik nou weer brandstigting .

Duck

Of dalk ‘n vesekering eisie?

Robert

Dit sal help as die lokaliteit van die oord gepubliseer word, nie almal weet waar dit is nie.

Hasie

Soms ontstaan die brande in die middel van ‘ n stuk veld waar niks en ” niemand” is nie …Laat mens wonder…