Foto’s van leeus het sosiale media op hol

Die foto van die leeus wat kamstig tussen Lydenburg en Sabie opgemerk is, word wyd op sosiale media versprei. Owerhede het dit as fopnuus bestempel. Foto: Twitter

Foto’s van leeus wat kamstig Dinsdag op die R37 tussen Lydenburg en Sabie in Mpumalanga gesien is waar hulle vrylik rondloop, het sosialemediagebruikers behoorlik aan die gons.

Teenstrydige inligting word sedert Dinsdag saam met die foto’s versprei. Volgens sommige boodskappe is een leeu gewaar, terwyl ander inskrywings weer aanvoer meer as een leeu is op vrye voet. Plaaslike media het berig dat die leeus uit die Krugerwildtuin ontsnap het, terwyl ander meen dit is nie duidelik waar die leeus vandaan kom nie.

Daar word boonop ook ʼn foto versprei van ʼn leeu wat op die teerpad lê met inligting dat die owerhede die “rondloperleeu” gevind en verdoof het en hom terug na die wildtuin geneem het.

Die foto van die leeus wat kamstig tussen Lydenburg en Sabie opgemerk is, word wyd op sosiale media versprei. Owerhede het dit as fopnuus bestempel. Foto: Twitter

Verskeie amptelike bronne het egter aan Maroela Media bevestig dat die inligting wat versprei word nie bevestig is nie en slegs fopnuus is.

William Mabasa, algemene kommunikasiebestuurder van die Krugerwildtuin, het Woensdagoggend gesê daar steek geen waarheid in die bewerings dat die leeu uit die wildtuin ontsnap het nie. “Ons hoor ook hierdie stories, maar geen van ons spanne in die veld dra enigsins kennis hiervan nie. Die mense wat hierdie inligting publiseer, publiseer fopnuus,” het hy gesê.

Janine Raftopoulos, hoof van kommunikasie by SANParke, het ook aan Maroela Media bevestig dat sy kennis dra van die inligting wat versprei word, maar dat dit onbevestig is en beslis nie amptelike inligting is wat van SANParke af kom nie.

Zandile Mandlazi, woordvoerder van Mpumalanga se departement vir gemeenskapsveiligheid, het ook gesê dat sy kennis dra van die gerugte, maar dat die departement geen amptelike inligting oor ʼn rondloperleeu ontvang het nie.

ʼn Skermskoot van die gesprek waarin daar beweer word dat die leeu verdoof is. Dit word wyd op sosiale media versprei. Foto: Twitter

Kholofelo Nkambule, woordvoerder van die Mpumalanga-toerisme-en-parke-agentskap (MTPA), het aan Maroela Media gesê ʼn span is ontplooi in die gebied waar die leeu glo gesien is om ondersoek in te stel na die bewerings.

“ʼn Lid van die publiek het gister by die MTPA aangemeld dat hulle ʼn leeu op die pad tussen Lydenburg en Sabie gesien het. Ons werkspanne is reeds van gister af besig om ondersoek in te stel en na die leeu te soek,” het Nkambule verduidelik.

“Die inligting dat die leeu uit die Krugerwildtuin ontsnap het, dat daar meer as een leeu is of dat die leeu reeds gevang en verdoof is, kom egter nie van ons af nie. Die foto’s wat versprei word ook nie. Dit is fopnuus. Ons sal meer inligting deurgee soos dit aan die lig kom.”

Divergent Ops Nelspruit, ʼn veiligheidsmaatskappy in die Laeveld, het Dinsdagaand op sy amptelike Facebook-blad gesê ondanks ʼn skermskoot van ʼn WhatsApp-gesprek wat versprei word dat die leeu verdoof is en teruggeneem is Krugerwildtuin toe, is hierdie inligting nie waar nie. “Mense van daardie gebied stuur valse inligting uit dat die leeu verdoof is, maar dit is nie waar nie en dit maak dit moeilik vir die owerhede betrokke,” lui die inskrywing op Facebook.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, het gesê geen saak in verband met ʼn losloperleeu is by die polisie aanhangig gemaak nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

honourable member ·

Die arme goed. Hoop hulle kan gou weer in hulle kamp wees.

christa ·

kan nie glo daar is mense wat fopnuus versprei nie. Is hulle regtig so ledig en nie weet hoe om hulle tyd te verwyl nie.

Jacques ·

Hi

Die foto is nie `n vervalsing nie, dis geneem uit een van ons voertuie en ons het die gps location van die voertuig toe die foto geneem is. Kontak my gerus vir meer inligting.

Jacques

vra net ·

So Jacques het jy die foto in 2015 in China geneem? Volg gerus die skakel dit is presies dieselfde foto

Elzané ·

Hi Christa. Dit is nie ‘fobnuus’ soos berig word deur Maroela Media nie. My kollega het die fotos geneem en die voorval gerapporteer….Glad nie ‘ledig’ nie.

Komaan ·

DIE NUUTSTE IS NOU DEESDAE OM REGTE NUUS FOPNUUS TE NOEM, net omdat die media bang is die storie het te vroeg uitgelek of om te keer dat mense paniekerig raak. HIERDIE STORIE is een van die WAAR stories wat nou as fopnuus afgemaak word. HOE GAAN ONS OOIT WEER die media kan glo?? KOMAAN mense . waar is julle bronne?

JSO ·

Just because “they” can’t find the freakin lions it is “fake news”?

Allan ·

Christa, kan jy nie sien die fotos is eg nie, en dan nog ‘n persoon wat by die leeu staan. Maar dit word ontken????? Onthou deesdae is egte nuus fake nuus en andersom

Cherokee ·

So nou help sommige van julle die valse nuus aan. Vertel wie het waar die leeus verdoof. Was dit ‘n veearts of ‘n wie? Dit is so onsinnige manier om aandag te trek.

Mariné Lourens ·

Dagsê Allan

Dankie vir jou kommentaar. Die foto van die leeu wat “verdoof is”, is ‘n foto van ‘n sirkusleeu wat in 2015 in Anhui in China ontsnap het en deur polisiebeamptes op ‘n snelweg doodgeskiet is. Sien gerus hierdie skakel vir meer inligting oor daardie voorval: http://www.chinadaily.com.cn/china/2015-09/09/content_21831706.htm

Groetnis
Mariné nms Maroela Media

Lion ·

Die leeu is nog nie gevind nie. Lees ander media wat opvolg oor stories, dan sal julle kan sien.

MM ·

dis al hoe daardie dorpies in die nuus kan kom, met fopnuus, hahahahahaha!
Maar, dis interessant dat ‘n groot gedeelte van die huidige Burgersfort destyds Leeuwvallei gehet het (die gebied is 60km van Lydenburg na Pietersburg se kant)

Kobus ·

Maroela haal mense aan wat sê dis fopnuus en rapporteer wat gesê word.

Leeu ·

Nou weet Nelspruit om nie enige inligting van Divergent Ops te vertrou nie, hulle het in 2018 n leeu wat in China 2015 is gedart en vervoer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.