Nog foto’s volg onderaan die berig. Vier mense het Sondagoggend in Woodstock, Kaapstad, uit ʼn brandende motor ontvlug.
“Die voertuig het steeds gebrand toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Luyanda Majija, woordvoerder vir ER24, in ʼn verklaring gesê. “Die persone wat in die voertuig gery het, het langs die pad buite die voertuig gesit toe paramedici opgedaag het.”
Een vrou is ernstig beseer en drie ander het geringe tot matige beserings opgedoen.
“Die voertuig het vermoedelik die padversperring getref nadat die bestuurder beheer oor die motor verloor het,” het Majija bygevoeg. “Die manspassasiers kon uit die motor kom, maar ʼn motorfietsryer het die vrou, oomblikke voordat die motor aan die brand geslaan het, uit die voertuig gesleep.”
Die pasiënte is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir dringende mediese behandeling.
Majija het paramedici van Life Healthcare en die brandweer bedank vir hul bystand op die toneel.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.